OUDTSHOORN NUUSFLITS - Die Kangovalleie Boerevereniging het pas ‘n plaasveiligheidstelsel saam met ‘n bekende sekerheidsmaatskappy, ‘n kommunikasie-netwerkverskaffer en die polisie van stapel gestuur.
“In die lig van die groeiende voorkoms van misdaad, insluitend plaasmoorde en die toenemende bedreiging van grondbesettings, het daar ‘n behoefte by lede van die vereniging ontstaan om ‘n vinnige, gewapende responsaksie in geval van nood in werking te stel,” het Theo Landman van Karusa-landgoed en voorsitter van die boerevereniging, verlede Donderdag tydens ‘n vergadering van lede in Schoemanshoek gesê.
Die vereniging het sowat 36 lede in ‘n uitgestrekte gebied wat strek vanaf Oudtshoorn tot by Matjiesrivier en sluit die areas Buffelsdrift, Schoemanshoek, Kombuysplaas en De Hoek in.
Die plaasveiligheidstelsel rus op drie bene, naamlik die netwerkverskaffer J&E Communications, Metro City Protection Service (MCPS) se tak in Oudtshoorn, en die polisie se afdeling vir landelike beveiliging.
“Die doel van die stelsel is om boere op plase in die vyf areas met behulp van ‘n mobiele radiostelsel, wat met MCPS se kontrolekamer verbind is, in geval van nood by te staan,” het Landman verduidelik.
Nood word gedefinieer as ‘n lewensbedreigende situasie, soos ‘n mediese toestand (hartaanval, beroerte), ‘n natuurramp (oorstroming of brand), ‘n plaasaanval of plaasbesetting waartydens lewens of eiendom bedreig word.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'