OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-veediefstaleenheid het tydens Agri Wes-Kaap se jaardinee op 12 Augustus erkenning ontvang vir sy uitstaande bydrae tot die bekamping van veediefstal en die bevordering van landelike veiligheid in die Wes-Kaap.
Volgens Rojeanne de Wet, Agri Wes-Kaap se woordvoerder, is die jaardinee tydens Agri Wes-Kaap se jaarkongres aangebied, waar uitstaande polisiebeamptes en -eenhede vir hul werk in die landelike gemeenskap vereer is.
Vir die beoordeling vir die veediefstal-toekennings word faktore soos die aantal arrestasies, boetes wat uitgereik is en skuldigbevindings onder meer in ag geneem.
Oudtshoorn se adjudant-offisier Nick Cremer, waarnemende bevelvoerder van Oudtshoorn se veediefstaleenheid, is as die beste veediefstallid in die Wes-Kaap aangewys.
Cremer het in 1991 by die polisie aangesluit en het reeds meer as 35 jaar diens. Hy is in 1998 tot inspekteur bevorder, 'n rang wat in 2010 na adjudant-offisier verander is.
Sedert 2012 is hy verbonde aan die Oudtshoorn-veediefstaleenheid, nadat hy voorheen by die Bethal-speurders en Secunda roof-taakspan diens gedoen het.
Volgens Agri Wes-Kaap is die toeken-ning erkenning vir sy uitsonderlike prestasies, hoë skuldigbevindingsyfer en bereidwilligheid om ekstra ure te werk. Sy leierskap as waarnemende bevelvoerder, asook die opleiding en ondersteuning wat hy aan boere en ander rolspelers bied, is ook in ag geneem.
Beste veediefstal- en bedreigde spesie-eenheid
Die Oudtshoorn-veediefstaleenheid het vanjaar ook die toekenning vir die beste veediefstal- en bedreigde spesie-eenheid ontvang.
Die eenheid bedien 'n uitgestrekte gebied wat onder meer Oudtshoorn, George, Knysna, Plettenbergbaai, Mosselbaai, Albertinia, Uniondale, Calitzdorp en Ladismith insluit.
Ten spyte daarvan dat die eenheid uit slegs ses ondersoekbeamptes bestaan, het dit volgens Agri Wes-Kaap 'n skuldigbevindingsyfer van 100% behaal. Dit oortref die eenheid se teiken van 97,09%.
Die eenheid is verder betrokke by misdaadvoorkoming en ondersoeke, die terugvind van gesteelde vee, gemeenskapsuitreikings, hulp met brandmerkaansoeke en gereelde skakeling met boereverenigings.
Cremer vertel
Volgens Cremer is dit die tweede jaar in 'n ry wat hul eenheid dié gesogte toekenning kry.
"Daar is tans net ses lede in die eenheid, maar as span werk ons hard en doen hulle uitstekende werk. Ek is trots op wat ons al bereik het."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’