Update
KLEIN KAROO NUUS - Boere van die verskillende areas en landbouvertakkings in die Klein-Karoo, wat in die wurggreep van die ergste droogte in dekades is, het Vrydagmiddag kans gekry om die situasie op plase aan Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese ontwikkeling, en Anton Bredell , minister van plaaslike regering en omgewingsake, voor te lê.
Winde en Bredell wat verlede week verskeie dorpe besoek het, is Vrydagoggend deur Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo (AKK), en Laubscher Coetzee, AKK se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, op 'n toer deur die gebied geneem om self te sien waarna 'n onlangse droogteverslag verwys. Tydens die gesprekke met die ministers het verskeie rolspelers hulle kommer oor die uitwerking van die droogte gedeel.
'Ons winkels loop leeg'
"Die volstruisbedryf het groot uitdagings en die droogte maak dit erger," het Piet Kleyn , uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Volstruisbesigheidskamer (SAVBK) gesê. "Volstruise is die een bedryf waarmee in 'n waterarm streek geboer kan word, maar dit is nie volhoubaar as ons nie kan uitvoer nie."
Die uitvoer van volstruisvleis word aan bande gelê deur voëlgriep en die staat se gebrekkige residumonitering. Boonop is volstruisboere uitgesluit van droogtehulp.
Sakeondernemings word ook geknel deur die situasie op plase. Jaco Vorster, 'n plaaslike sakeman, het gesê afleggings op plase beïnvloed besighede. "Ons winkels loop leeg."
Volgens Gideon Badenhorst, voorsitter van Oudtshoorn-besigheidskamer, is daar 'n reusebehoefte aan vaardigheidsont-wikkeling en werkskepping. "Geleenthede gaan verlore weens departementele rompslomp."
'Dit reën nie geld nie'
Pieter de Jager van Absa het gesê die omset van kleiner en groter boere het met 50% afgeneem terwyl uitgawes gestyg het. "Veeboere het net kernkuddes oor en het nie surplus vee om te verkoop nie. Van die kleiner boere sit van hul grond in die mark, maar volgens eiendomsagente is daar nie kopers nie."
Hy se skuld het baie toegeneem, en die bank kry daagliks versoeke van boere vir verhoogde fasiliteite omdat hulle nie hul verpligtinge (paaiemente) kan nakom nie. "Al reën dit nou, gaan hierdie droogte ons oor 'n jaar steeds swaar tref, want ongelukkig reën dit nie geld nie."
Tydens die besoek van ministers Vrydag is, van links: Laubscher Coetzee (Agri Klein Karoo verteenwoordiger by Agri Weskaap), Alan Winde (minister van ekonomiese ontwikkeling), Joey Potgieter (voorsitter van Agri Klein Karoo), Anton Bredell (minister van plaaslike regering en omgewingsake) en Tertius Simmers (kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn en Kannaland). Foto: Tisha Steyn
David Malan van Klein Karoo Saadproduksie (KKSP) het gesê uitbetalings aan produsente vir groentesaadproduksie het sedert 2016 met 50% afgeneem. "Ons is op die vooraand van nog groter moeilikheid as dit nie reën nie."
'Ek gaan 'n statistiek word'
Potgieter het gesê bemagtigingsprojekte gaan nie slaag sonder water nie. "As hierdie projekte nie hulp kry nie, gaan hulle nie voortbestaan nie."
Nuwe boer Jolian du Preez, wat 'n plaas naby De Rust gekoop het, het gesê hy het dringend staatshulp nodig. "As die staat nie nou na die tafel toe kom nie, gaan ek 'n statistiek word."
Ricardo Tiemie, werknemer, het gesê: "Die gemeenskap sit werkloos by die huis. Die damme is leeg, en ons boere se bankrekeninge bly ook leeg. Al reën dit nou, gaan dit nog 'n jaar neem om lusern te produseer, maar intussen het ons nie geld om aan te gaan nie. Ons is afhanklik van iemand wat kan help."
Ter afsluiting het Potgieter gesê: "In landbou is ons gewoond aan planne maak, maar ons planne raak min: ons het hulp nodig."
Ministers het nie antwoorde nie
"Ons kan nie beloftes maak nie," het Winde gesê. "Julle moet almal bymekaar bring – die mense van die dorp, besighede, boere en regering – en in vennootskap 'n visie vir die streek formuleer sodat julle kan weet waar gaan julle heen as droogte en voëlgriep toeslaan."
Volgens hom is daar reeds groot bedrae droogtehulp in die streek uitbetaal waarvan Oudtshoorn in Maart R606 696.60 ontvang het.
Die geld is tussen 35 kommersiële en 34 opkomende boere verdeel.
Hy het ook gesê instansies wat werknemers onder die ouderdom van 35 jaar in diens neem kom in aanmerking vir die jeugloonsubsidie wat aangevra kan word.
Bredell het op sy beurt gesê: "Daar is baie wat glo ons het onnodige wetgewing met betrekking tot omgewings-bewaring, maar ons moet ons ekologiese sisteem beskerm – al kan 'n mens nie fynbos eet nie. Dit vorm deel van die ongelooflike toerismepotensiaal van die streek. Ons sal droogtes moet bestuur en anders daaroor dink."
Winde het gesê hy sal sekere sake opvolg. "Ons kan nie beloftes maak nie."
Lees 'n verwante artikel: Boere vra droogtehulp by Minister
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'