Video
LANDBOUNUUS EN VIDEO - Net buite George, reg langs die Heroldsbaai-afrit, is die spogplaas, Skimmelkrans Boerdery, 'n suiwelplaas wat al vir meer as 100 jaar en drie generasies deur die Kuylers besit en bedryf word.
Skimmelkrans, wat uitsluitlik aan Nestlé melk lewer, is ook dié internasionale reus se vlagskipprojek in Suid-Afrika wanneer dit kom by hul strewe na zero koolstofemissies.
Aan die stuur van sake is George Kuyler, die derde generasie hoof uitvoerende beampte wat die besigheid saam met sy pa en sy oom bedryf.
Die plaas is isedert 1921 in die Kuylers se besit en lewer al vir 70 jaar melk aan Nestlé. Al die melk gaan na die Nestlé-fabriek op Mosselbaai waar 'n verskeidenheid produkte vervaardig word.
Skimmelkrans het in die laaste paar jaar begin diversifiseer en Kuyler het ook nou etlike avokado- en makadamiaboorde. Die verskeie grasgewasse wat op die plaas aangeplant word as weiding, is een van Kuyler se groot liefdes.
George Kuyler en sy vrou Lizl saam met hul kinders wat hopelik die vierde generasie sal word wat voortbou op Skimmelkrans se sukses. Die kinders is kloksgewys van agter Lukas, Lizandri en Elri.
George Herald het 'n volle middag by Skimmelkrans se state of the art melkery op die plaas deurgebring waar Kuyler ons gewys het hoe hul die nuutste tegnolgie benut - nie net om optimale melkproduksie te verseker nie, maar ook om hul omgewingsvoetspoor so klein as moontlik te hou.
Die koeie word twee keer 'n dag gemelk - dou voor dag en dan weer in die middag - op 'n roterende voerplatform waar tegnologie elke individuele koei se inligting binne sekondes inspan om vir haar 'n perfek-gebalanseerde ete voor te sit terwyl sy gemelk word.
Die koei se uiers word wel deur 'n mens gestimuleer om die beste melkvloei te verseker, maar wanneer dit by die melkery self kom, word alles deur masjiene gedoen.
Die koeie op die roterende platform kry individuele koei-spesifieke voeding wat binne sekondes deur 'n rekenaarprogram saamgestel word met inligting van 'n 'chip' in elke koei se oor. Terwyl hulle hul bord kos geniet, word hulle ook gemelk. Foto: Cameron Squire
Kuyler se kantoor het 'n groot glaspaneel van waar hy al die bedrywighede fyn kan dophou en kan sien wat die rekenaar sê oor die koei se gewig, algemene gesondheid, voedingsbehoeftes en melklewering.
Die koeie eet nie net in die melkery nie, maar wei ook daagliks op die lande waar hulle 'n verskeidenheid grassoorte, of 'n "mixed herb salad", soos Kuyler dit noem, geniet.
Om die weidingsgebasseerde kudde van meer as 'n 1 200 koeie se koolstofemisies teen te werk, het Kuyler verskeie vernuwingslandbou-sisteme in plek, insluitend die plant van 'n verskeidenheid gewasse wat die grond gesond hou, terwyl die grasse die kweekhuisgasse gebruik om te fotosinteer.
Die koeie se mis word op 'n daaglikse basis verwerk om gasse te beperk, water word herwin en Kuyler het ook 'n groot sonkragprojek om so min as moontlik Eskomkrag te gebruik.
Een van talle biosekuriteitborde op die plaas.
Om bek-en-klouseer en ander besmetlike siektes te voorkom word streng higiëniese praktyke op die plaas gehandhaaf. Skimmelkrans is ook 'n geslote kudde so geen nuwe diere word van ander plase aangekoop nie.
Kuyler se vrou, Lizl, het tot vroeër vanjaar nog Skimmelkrans se boeke gedoen, maar het die boekhouleisels verruil vir perdeleisels en wy deesdae soveel as moontlik tyd aan uithouritte. Die kranige ruiter het verlede jaar 100de ander ruiters getroef met 'n 26ste plek in die uitmergelende 3-dag Fauresmith-uithourit in die Vrystaat en oefen hard om selfs nog beter te vaar.
Kuyler is ook betrokke by Lizl se uitdagende sport en is verantwoordelik vir die versorging van haar perd voor, tydens en na die uithourit.
Fourie Ackermann se kuns pryk ook op Skimmelkrans.
Estetika is ook belangrik en 'n reuse muurskildery van die koeie op die plaas is onlangs deur die bekende plaaslike kunstenaar, Fourie Ackermann van Friemersheim, op die melkery se muur aangebring, Die toneel is so lewensgetrou dat Skimmelkrans se koeie die gras op die muur wou eet.
Om meer te sien van al die bedrywighede op dié spogplaas, kyk na die video wat ons op Skimmelkrans geskiet het en waarin die spitsvondige George Kuyler in detail oor koeitjies en kalfies gesels!
VIDEO: Skimmelkrans se suiwelboer praat oor koeitjies en kalfies
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’