OUDTSHOORN NUUS - Die uitvoermark is geen nuutjie vir produkte uit die Klein-Karoo nie. Van die duurste cowboy-stewels wat in Texas verkoop word, word gemaak uit volstruisleer uit die Klein-Karoo, en daar word bykans geen groot karnaval in die wêreld aangebied sonder volstruisvere uit die Klein-Karoo nie.
Om na die buiteland uit te voer, het groot uitdagings, maar die mark lê en wag en die Wes-Kaapse regering beplan om die uitvoermark teen die einde van 2030 te verdriedubbel.
Dit was van die interessante feite wat verlede Donderdag voorgehou is deur sprekers tydens die Distriksuitvoerseminaar wat deur die Wes-Kaap se departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme aangebied is.
Seminaar deel van reeks oor hele provinsie
Bykans elke sitplek in die banketsaal van die munisipale gebou was beset om te luister na aanbiedinge deur verskeie organisasies soos Wesgro, Landbank en provinsiale departemente. Die doel van die seminare, wat regoor die provinsie aangebied word, is om inligting te gee en ondersteuning en hulp beskikbaar te maak.
Burgemeester bevestig verbintenis tot volhoubare ontwikkeling
Oudtshoorn-burgemeester, Johan Allers, het gesê uitvoerprodukte in die volstruisbedryf, wyn, olyfolie, groentesaad, boerbokke, heuningbostee en spekboomprodukte is van die beste in die wêreld en in groot aanvraag in die buiteland.
Hy beskryf die Klein-Karoo se toerisme ook as 'n uitvoerproduk. Hy het bevestig dat die munisipaliteit verbind is tot noue samewerking met distriksmunisipaliteit, die provinsie en die sakesektor om volhoubare plaaslike ontwikkeling te fasiliteer.
Plaaslike produkte gesog in buiteland
Twee van die sprekers wat opgetree het, was plaaslike sakemanne in die landbou-sektor, Joey Potgieter van Ostriland en Vasin Govender van die plaas Zebara op Middelplaas buite De Rust.
Govender, wat grappenderwys na hom-self as Farmer Brown verwys, sê hulle fokus is volstruise en uie- en wortelsaad wat uitgevoer word. Volgens hom het die tariewe wat deur Amerika ingestel is, 'n invloed op uitvoere, maar dit is oorkombaar as uitvoerders aanpasbaar is en alternatiewe planne het.
Joey Potgieter, van Ostriland wat volstruisprodukte bemark en hulle eie volstruisabbatoir opgerig het, het met hom saamgestem en gesê hulle moes planne maak om die tariewe se invloed aan te spreek. "Ons het al vir meer as 35 jaar 'n sakeverhouding met die VSA. Verhoudings met oorsese kliënte is uiters belangrik, want dan kan mens planne maak."
Hy het benadruk dat die kwaliteit van produkte deurslaggewend is vir die uirvoermark.
"Daar is tussen 140 000 en 160 000 volstruise in Suid-Afrika, maar daar is omtrent 60 000 volstruise in Sjina, maar die kwaliteit van hulle volstruisprodukte is swak. Ons kwaliteit gee ons 'n reuse-voorsprong." Hy benadruk dat die fokus van enige uitvoerproduk deurentyd op kwaliteit moet wees. "Die uitvoermark soek kwaliteit en die Klein-Karoo sit met van die beste kwaliteitprodukte in die land."
Seminaargangers het deur die loop van die seminaar geleentheid gehad om vrae te stel en kon ook na die aanbieding inligting uitruil. Elkeen het 'n Uitvoerhulpbrongids ontvang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’