LANDBOUNUUS - Vernuftige jongboere in die Wes-Kaap het nog net meer as 'n week tyd om in te skryf vir die Agri Wes-Kaap / Santam Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is volgende Vrydag, 25 April, en jongboere word aangemoedig om die geleentheid aan te gryp.
Die toekenning is verlede jaar deur 'n boer van Waboomskraal buite George, Dean Barnard, gewen.
Dit was 'n groot jaar vir Dean, want hul familieplaas, Oppie Plaas Boerdery, wat hy saam met sy pa Deon besit, het die Guinness World Records gehaal vir die kweek van die wêreld se swaarste pruim.
Die jongboer-toekenning, wat boere van 40 en jonger bekroon vir hul uitnemendheid en vindingrykheid, bied ook waardevolle blootstelling binne die landboubedryf. Dit is 'n unieke platform vir jongboere om hul bestuursvaardighede en innovasies op 'n groter skaal te deel.
Wie kan inskryf?
Die kompetisie is oop vir boere van 40 jaar en jonger wat reeds vir minstens een jaar 'n opbetaalde lid van hul plaaslike landbouvereniging is.
Deelnemers kan onafhanklik boer, in vennootskap wees of as plaasbestuurders optree, solank hulle spesifieke bestuursverantwoordelikhede het wat beoordeel kan word.
Beoordelingskriteria
- Bestuursfilosofie en -vaardighede
- Finansiële bestuur en rekordhouding
- Tegniese bevoegdheid in boerderypraktyke
- Bemarkingsfilosofie en -praktyke
- Gemeenskapsbetrokkenheid en deelname aan georganiseerde landbou.
Die 2025 Agri Wes-Kaap / Santam Jongboer van die Jaar word op 11 Junie tydens 'n formele galadinee by Ashanti Estate in die Paarl aangekondig.
Nasionale erkenning
Die provinsiale wenner sal outomaties deurdring na die nasionale kompetisie, waar hulle teen ander topjongboere van regoor Suid-Afrika meeding om die gesogte Toyota SA / Agri SA Jongboer van die Jaar-titel.
Benewens die eer en erkenning, wag daar waardevolle pryse en verdere blootstelling binne die bedryf.
Om in te skryf, besoek die Agri Wes-Kaap-webwerf of kontak hul kantoor by 021 860 3801 of per e-pos by elandri@awk.co.za.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’