OUDTSHOORN NUUS - "Hoe boer ek beter met minder?" Dit is die vraag wat Laubscher Coetzee aan boere gevra het tydens die boeredag wat op Woensdag 21 Mei by Oudtshoorn-proefplaas aangebied is.
"Hierdie is 'n interessante, relevante onderwerp, maar ook 'n relatiewe onderwerp. Wat beter of minder werk vir een boer beteken, is nie noodwendig gepas vir 'n ander boer nie. Dit is in korrelasie ten opsigte van waar en waarmee jy boer, asook watter blootstelling jy aan hulpbronne het."
Coetzee het afgeskop met die uitdagings waarmee landbou amper op daaglikse basis gekonfronteer word.
Die Waterwet
Die Wysigingswetsontwerp - waterlisensies moet jou BEE kwota insluit en wissel tussen 25, 50 en 75%.
Die ANC-regering wil waterverbruik misbruik om sosiale transformasie te bewerkstellig.
Die Grondwet maak op talle plekke daarvoor voorsiening, die Waterwet volg nie die roete nie, en die proses is nog nie voltooi nie.
"Die feit dat dit 'n politieke konnektasie het, skep geen beleggingsvertroue en stuur sinnelose seine na buite." AgriSA gaan die wet teenstaan, noem Laubscher.
Infrastruktuur
Laubscher het verduidelik dat agteruitgang 'n groot uitdaging vir boere is, en hou 'n groot risiko in vir almal, ook landbou.
Volgens ongeverifieerde syfers gebruik landbou in Suid-Afrika sowat 60% water en die internasionale norm staan op 80%. "Landbou staan laaste in die ry met watertoekennings."
Volgens hom sluit die prioriteitslys vir water die volgende in: Menslike oorlewing, ekologiese reserwes, internasionale verpligtinge aan buurlande, stede en dorpe, industrieë (Eskom, myne en fabrieke) en laastens landbou.
"Landbou het die laagste sekerheid van water, en word dus eerste geraak. Water behoort nie aan individue, maar aan die mense van Suid-Afrika, en is die minister van waterwese, die bewaarhebber van alle water in die land."
Mynbou en landbou
Hierdie is nog 'n mynveld wat geweldige uitdagings aan landbou bied aangesien landbou en mynbou meeding om grond.
"Die regering is meer ten gunste van mynbou soos die eksplorasie van gas (fracking). AgriSA werk nou saam met Derek Light Prokureurs en hou 'n oog op die grondwaterstudie deur L2K2 Consultants om toe te sien dat die ontwikkeling behoorlik gereguleer word."
In die Wes-Kaap alleen is 300 000ha geoormerk vir eksplorasie van gas.
Klimaatsverandering
Boere moet kennis neem dat die fokus op die koolstofspoor in landbou, wat tot koolstofbelasting kan lei 'n groot kwessie is vir boere.
Wat kan ek beter doen met minder?
"Daar is talle verskillende tegnieke, toerusting en metodes om meer effektief te besproei. Ek wil egter stilstaan by een, naamlik vloedbesproeiing, aangesien dit oorwegend die metode in ons kontrei is. Landerye wat goed gelaser is, bly een van die goedkoopste, mees effektiewe manier van besproei, eintlik die beste."
Volgens Laubscher begin 'n boer met laser op jou beste, mees produktiewe grond. "Bepaal jou hellings, kyk voor jy begin sleep en hou ook die breedte van beddings in gedagte.
Die grondtipe is ook belangrik, dit is 'n duur opsie, maar op die langtermyn die goedkoopste."
Die voordele van laser sluit in: Dit verseker 'n gelyke oppervlak oor die hele area; daar is 'n baie kleiner kans dat jy jou gewasse gaan versuip, dit bevorder eweredige waterverspreiding, dit verminder watergebruik tot 35%, dit lewer verbeterde oes-opbrengste, dit bespaar tyd en arbeid, bevorder boerderyproduktiwiteit tot 50%, verseker langtermynvolhoubaarheid, verminder onkruid in landerye, bespaar energie en hou omgewingsvoordele in soos geen gronderosie en minder waterverbruik.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’