PRINS ALBERT NUUS - Emosioneel gelaaide tonele het hulle verlede Saterdag 7 Desember, in Prins Albert afgespeel toe 'n konvooi van 78 vragmotors en ander voertuie die dorp binnegery het met tonne voer, kruideniersware en water.
Boere en plaaswerkers van die Prins Albert- en Leeu Gamka-omgewing het hulle met voertuie en sleepwaens rondom die arena van die skouterrein ingewag waar voorrade uitgedeel is.
"Die boere het met min infrastruktuur gekom, omdat hulle nie soveel skenkings verwag het nie, so ons het tot baie laat die aand gewerk. Ons het hulle, en ons eie, verwagtingever oortref met die omvang van die skenkings," het 'n baie dankbare Pieter du Plessis, Suid-Kaap-koördineerder van South AfricanWater Warriors, agterna gesê.
Die konvooi het bestaan uit voertuie van so ver as Rustenburg, Pretoria en Kaapstad, asook 'n klomp voertuie van George wat voorrade oor die berg geneem het.
"Een sakeman van Rustenburg het vier trokke en agt bakkies beskikbaar gemaak, als op sy eie onkoste. Dit gee 'n mens hoendervleis," het Du Plessis gesê.
Ongeveer 6 km buite Prins Albert op die Leeu Gamka-pad het die vier konvooie bymekaar aangesluit. Twee plaaslike polisievoertuie en die stasiebevelvoerder het hulle saam die dorp in begelei. "Prins Albert het nog nooit so 'n groot verkeersknoop beleef nie".
Uit George is sowat R65 000 se voer aangekoop ná 'n uitdaging aan besighede wat Kell Alluminium and Powder Coating gelei het.
"Ons kon 106 lusernbale, drie ton geelmielies, drie ton lusernpille en nog 20 ronde lusernbale van ongeveer 350kg, geskenk deur 'n boer van Geelhoutboom, aankoop. Ons wil almal uit ons hart bedank vir hulle bydraes. 'n Klomp vrywilligers het ook hul voertuie beskikbaar gestel," het Du Plessis gesê.
"Ons reken dat ongeveer R500 000 se kruideniersware Saterdag uitgedeel is. Daar was vier gelede trokke vol palette water - ongeveer 64 00 liter. Die totaal in tonne voer wat uitgedeel is, het ons nie uitgereken nie. Dit was baie - daar was ses gelede trokke, drie 8-ton trokke, drie Ford Rangers, en 'n Amarok met 'n 2-ton sleepwa.
"Die boere het bly sê ons het hul verwagtinge oortref. Een man het gesê buiten die voorsiening van lewensmiddele wat Water Warriors bewerkstellig, bring ons ook mense bymekaar.
"Waar mans by kerkdienste nie meer met mekaar gekommunikeer het nie, het hulle Sondag weer blad geskud. Nog iemand het gesê ons is besig om medemenslikheid aan te wakker. Sulke woorde is 'n riem onder die hart."
'n Gedeelte van die konvooi langs die pad na Prins Albert.
Donkies kry nuwe tuiste
Voer is ook aan die Prins Albert-donkieskuiling geskenk wat sukkel in die droogte. 'n Wilderneshoogte-inwoner, Werner Ferreira, het in reaksie op 'n TV-uitsending van die uitreik aangebied om 'n donkiemerrie en haar vul asook 'n perd van die skuiling aan te neem.
Ferreira het R2 800 ingesamel vir nog voer vir die skuiling. "Ons benodig net 'n perdesleepwa om die diere te gaan haal, dan wil ons sommer die sleepwa hier volmaak met voer om dit oor te neem," sê Du Plessis. Hy het ook 'n beroep gedoen vir nog donasies vir voer vir die donkieskuiling.
Die konvooi uit Kaapstad het ook 'n trok vol water op Touwsrivier en 'n trok vol voer op Ladismith afgelaai voordat hulle teruggedraai het Kaapstad toe.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'