OUDTSHOORN NUUS - Die Raubenheimerdam staan tans op 68,05% kapasiteit, met 17 mm reënval wat die afgelope week by die dam aangeteken is. Volgens Erna Wagenaar, waarnemende woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, beloop die dorp se gemiddelde waterverbruik tans ongeveer 17,4 megaliter per dag.
Hoewel die drinkwater steeds baie troebel is, is daar volgens die munisipaliteit duidelike verbetering in die watergehalte.
Die kleurlesing het verbeter van 550 mg/L Pt na ongeveer 330 mg/L Pt, terwyl die troebelheid aansienlik afgeneem het van 99 NTU na 34 NTU.
“Hierdie verbetering is ook visueel waarneembaar. Onder normale omstandighede behoort die kleurlesing egter onder 20 mg/L Pt en die troebelheid minder as 1 NTU te wees. Die munisipaliteit is optimisties dat die waterkwaliteit oor die volgende paar weke verder sal verbeter.”
Weens die huidige toestande bly chlorinering minder effektief. Hoewel geen bakterieë tydens verlede week se watermonsters opgespoor is nie, geld die voorsorgmaatreël dat drinkwater steeds gekook moet word voordat dit gebruik word.
Dysselsdorp onder druk
Dysselsdorp se watervoorsiening bly onder groot druk weens beperkte lewering vanaf die Vermaaksrivier-boorgate. Die huidige waterverbruik is byna gelyk aan die beskikbare toevoer, wat die stelsel uiters kwesbaar maak.
’n Breek op een van die pyplyne wat die Blossoms-bron met die waterskema verbind, verhoed tans dat water vanaf Blossoms na Dysselsdorp gevoer kan word.
Streng Vlak 6-waterbeperkings bly van krag en inwoners word dringend versoek om hul waterverbruik verder te beperk.
De Rust-stelsel steeds kwesbaar
In De Rust hou die tydelike herstelwerk wat verlede week gedoen is steeds, maar die waterstelsel bly broos. Die munisipaliteit se beplanning vir ’n permanente oplossing, asook die verkryging van die nodige omgewingsgoedkeurings, aangesien werk binne ’n sensitiewe rivieromgewing sal plaasvind, vorder goed.
Vlak 6-waterbeperkings bly ook hier streng van toepassing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’