Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - As inwoners nie dringend elke druppel water laat tel nie, sal watervoorsiening in Oudtshoorn kritieke afmetings aanneem. Volgens 'n mediaverklaring wat Dinsdag deur die munisipaliteit uitgereik is, is daar slegs 30% water in die Raubenheimerdam oor. Die kommerwekkende feit is egter dat die hele 30% nie bruikbaar is nie, aangesien die water onder in die dam sogenaamde dooie water is, en heeltemal onbruikbaar is.
Volgens Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, raak die kwaliteit van die water al swakker namate die damvlak daal tot op 'n punt waar dit onbruikbaar gaan wees.
Die Melvilledam aan die bokant van die Raubenheimerdam is tans 100% vol, maar die totale inhoud van die dam kan die dorp vir slegs een maand van water voorsien.
"Die Melvilledam het egter net een maand se watervoorraad en word dus gespaar vir ingeval die "dooie water" in die Raubenheimerdam bereik word," sê Oliphant.
"Elke druppel water help en elkeen van ons is verantwoordelik om toe te sien dat water nie gemors word nie. Dit is ons plig om te verseker dat ons by die waterbeperkings hou om sodoende te verhoed dat die Raubenheimerdam se vlakke drasties daal," sê Colan Sylvester, uitvoerende burgemeester.
Die huidige watervoorraad moet water aan 23 362 huishoudings met ongeveer 97 981 inwoners voorsien.
Volgens Oliphant word die damwater konstant gemonitor om te verseker dat dit drinkbaar en onbesmet is.
"Die laaste toetsuitslae toon dat daar geen E.coli of totale kolivorme in Oudtshoorn se drinkwater is nie, maar die troebelheid sowel as die kleur is wel te hoog. As gevolg van die hoë troebelheid word daar aanbeveel dat die water vir drinkdoeleindes gekook word. Die water sal ook ongelukkig wit wasgoed vlek," sê Oliphant.
Die munisipaliteit is gevra of Oudtshoorn moontlik 'n Dag Zero in die gesig staar, maar teen druktyd gister was die vraag nog onbeantwoord.
Kyk 'n video hieronder:
Biddag vir reën
Verskeie rolspelers in landbou en kerke in Oudtshoorn hou Donderdag 16 Augustus 'n biddag vir reën. Die organiseerders nooi alle inwoners van Oudtshoorn en die omgewing uit om tussen 13:00 en 14:00 by die burgersentrum saam te kom om te bid vir 'n einde aan die knellende droogte.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'