Altesaam 15 stoetbulle het onder die hamer gekom en is vir ‘n gemiddeld van R33 667 (totaal R505 000) verkoop.
Die topprys van R55 000 is betaal vir een van Mike du Toit van Swartshoek Bonsmaras in die Humansdorp-omgewing. Die kopers is Klein-Karoo-boere Hannes Terblanche en Piet Schoeman, wat albei van die bul HBT 11-0054 se diens gebruik sal maak by hul kommersiële kuddes.
Die bul word in die veilingsnota so omskryf: “
’n Vroegryp mediumraam bul met uitstekende bouvorm, diep, lank, goed ontwikkelde oogspier, en baie vleis op die agterkwart. Sy vaar is TOR 05-2-6 wat tans in Arthur de Villiers se kudde is. Ons streef daarna om bulle te teel wat ‘n verskil maak in boere se kuddes,” sê Du Toit. “Ons doelwit is om mediumraam, aanpasbare en vrugbare diere te teel en net die beste genetika aan te bied vir mede-boere.”
Volgens Du Toit het Swartshoek ook begin om die poenskop-genetika met welslae in die kudde in te bring.
Vroulike diere
Vier dragtige stoetverse is teen gemiddeld R13 375 verkoop (totaal R53 500). Onder kommersiële diere is vyf dragtige kommersiële koeie verkoop teen gemiddeld R10 250 (totaal R51 000), sowel as 45 kommersiële verse vir gemiddeld R9 345 (totaal R420 550), drie kommersiële koeie met kalwers teen gemiddeld R11 500 (totaal R34 500), en 27 kommersiële oop verse vir gemiddeld R5 293 (totaal R142 900).
“Die veiling gee boere die geleentheid om hul kudde te verbeter,” sê klubvoorsitter Lourens Eales van Ruiterbos Bonsmara Stoet in die Mosselbaai-omgewing.
“Die bulle en stoet-vroulike diere is deur die Bonsmara-sisteem getoets vir funksionele doeltreffendheid en is almal vooraf gekeur. Die diere is net voor die veiling vir ‘n tweede keer deur kenners deurgekyk tydens die ‘Kyk weer’-sessie wat Vrydagmiddag gehou is, en voldoen aan al die vereistes vir stoetvee.”
Alhoewel alle Bonsmaras teen die belangrikste siektes geënt word, is hierdie diere tydens seleksie ook getoets vir siektes.
“Bonsmaras word onderwerp aan die strengste toetse en metings in die vleisbees-bedryf,” sê Eales.
Volgens Eales is daar baie genetika-diepte in die diere wat op die veiling aangebied is.
“As Bonsmaras, of enige ander ras, nie goed presteer nie, is dit as gevolg van net twee faktore: genetika of bestuur.”
Alhoewel besonderhede van stoetdiere op die katalogus verskyn, is die individuele dier se voorkoms steeds vir die meeste kopers deurslaggewend.
“Dit hang af hoe die dier lyk – en elke koper het sy eie idee van hoe ‘n dier moet lyk,” sê Du Toit.
Die Bonsmara-ras is sowat 70 jaar gelede deur Prof Jan Bonsma ontwikkel uit 5/8ste Afrikaner en 38ste Hereford en Shorthorn. Sedertdien is daar tans net soveel Bonsmaras en Bonsmara-tipe beeste in die land as al die ander vleisbeesrasse saam.
Die Bonsmara is maklik aanpasbaar, ekonomies funksioneel en ‘n doeltreffende produseerder, wat dit makliker maak vir nuwe toetreders. Die gemiddelde kalfpersentasie is 95% en ‘n goeie bul kan minstens 30 kalwers per seisoen verwek.
Ander verkopers naas Mike du Toit sluit Duedale Bonsmara Stoet (Stefan Loock), Letterkrans Bonsmara Stoet (Hennie en Okkie Potgieter), Ruiterbos Bonsmara Stoet (Lourens Eales) en Goedemoed Bonsmara Stoet (Wessel Pienaar) in. Die veiling is aangebied deur GWK en geborg deur De Heus en Nedbank. Vir meer inligting, kontak Hennie Potgieter by 082 858 3400.
Die lot 6 is die duurste bul op die veilng vir 'n bedrag van R 55000.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'