KLEIN KAROO NUUS - " 'n Mens hoor van die droogte. Maar nou síén ons dit."
So het Ezla Rütter van die Wellingtonse VLV-tak Dinsdagoggend op die plaas Wolvekraal buite Prins Albert gesê toe sy en nog twee taklede sestig geskenkbokse aan boervroue van die omgewing oorhandig het.
Die inhoud is deur weldoeners geskenk en vorm deel van die landwye "Boks vir 'n Boervrou in Droogtegebiede"-projek om die uitwerking van die knellende droogte in groot dele van die land te versag.
Rütter, Dalene Leipoldt en June Smit het die geleentheid gereël deur Berlinda Nel van Wolvekraal en Ilze Steyn van die plaas Rietfontein wat die name van boervroue in die gebied verskaf het. Volgens Smit kom van die geskenkpakke tot so ver as Hoedspruit.
Hestie Fourie van Abrahamskraal naby Prins Albert het gesê: "die besoek is vir ons boervroue 'n ligpunt. Ons het dit nodig om vir ons nuwe energie te gee om ons moedelose eggenoot saans met 'n glimlag te groet.
"Ek is in 'n droogtetyd gebore, voor 1960, en was baie klein toe my pa my die eerste keer gewys het hoe reën lyk, toe daardie eerste druppels val.
"In die Karoo reën dit min, het iemand eenkeer aan ons gesê: 'As julle nie hiervoor kans sien nie, gaan boer dan eerder met waterbuffels in die Kongo. Nou voel dit soms 'n mens wil Kongo toe vlug."
Die Wellingtoners het gesê die projek trek al oorsee aandag, van Amerika tot Singapoer. Dis op 30 September op Facebook begin.
Dit het al oor die 6 000 lede en is meer as 90 000 keer gedeel. Skenkers kan nie-bederfbare kos en lekkergoed, asook ware soos sjampoe en lekkerruikgoed, tandepasta en reukweerder in 'n boks (soos 'n skoenboks of seswynbottelboks pak), dit met koerantpapier of bruinpapier toedraai, en met 'n lint toebind.
By die Boks vir 'n Boervrou-geleentheid op Prins Albert was van links: Jeanette Marais, Hestie Fourie, Hester van Vuuren, Wilna Muller, Dalene Leipoldt (VLV), June Smit (VLV), Ezla Rütter (VLV), Johanna Luttig, Annatjie Botes, Berlinda Nel, Marizelle Solomons, Ilze Steyn, Rosalind Botes, Amelia le Grange en Anchen Marais, met Janru Marais. Foto: Marlene Malan
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'