TUINROETE | KAROO NUUS - Die kommersiële landbou en slagpaal-eienaars is bekommerd oor die verspreiding van varkpes (African Swine Fever) op die Tuinroete en na die res van die land as die regte prosedures nie gevolg word met die sporadiese uitbraak van die siekte nie.
Volgens 'n slagpaal-eienaar, is die uitbraak van varkpes in KwaNonqaba, Mosselbaai vir drie weke stil gehou met die gevolg dat die varke rondgeskuif is en die siekte na George en Plettenbergbaai versprei het.
Die slagpaal-eienaar, wat anoniem wil bly, sê: "Die regte prosedures is nie gevolg nie. As varkpes uitbreek, moet die area onder kwarantyn geplaas word, die siek diere moet van kant gemaak en die karkasse verbrand word. Dit help nie om die diere te skuif en die karkasse te begrawe nie. Dis 'n aansteeklike siekte."
Volgens 'n mediaverklaring deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou, wat op 17 Mei uitgereik is, is varkpes op 19 April by varke in die KwaNonqaba area, bevestig. Sowat 40 varke is dood en die sowat 200 oorblywende varke is onder kwarantyn geplaas.
Die gemeenskap is gevra om nie enige varke of varkprodukte uit die area te verwyder nie, aangesien die siekte so na ander dele versprei.
Henry Meyer, streeksverteenwoordiger van Agri-Weskaap, sê varkpes is 'n staatsbeheerde siekte wat onmiddellik bekamp moet word wanneer dit uitbreek.
Een manier is om padblokkades te hou om die vervoer van varke te beperk.
"Kommersiële boere word met hul opleiding geleer van mens- en diergesondheid, wat op die versorging van en handeldryf in lewende wesens van toepassing is.
Informele boere wat op klein skaal met varke en ander lewende hawe boer, is gewoonlik nie opgelei of ingelig oor dié reëls nie. Ons is baie bang dat die siekte nasionaal kan versprei, wat 'n vernietigende uitwerking op alle varkboere, die voedselbedryf en die ekonomie kan hê," het Meyer gesê.
Die varkhokke, van die N2 af afgeneem, waar 40 varke weens varkpes gevrek het.
Die hokke in KwaNonqaba waar 40 varke weens varkpes gevrek het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’