Dit was die boodskap van dr. Annelie Rabie tydens die 77ste konferensie van sirkel Suid-Karoo van die Vroue Landbouvereniging wat verlede naweek op die plaas Bloemendal naby Klaarstroom plaasgevind het.
Vrouens van verskeie distrikte waaronder Klaarstroom, Prins Albert, Merweville, Beaufort-Wes, Sutherland, Carnarvon, Williston en Fraserburg het die konferensie bygewoon en die eienaars van Bloemendal, Frans en Marie Gerber, moes vroegtydig rondskarrel om die nodige reëlings te tref.
Dr. Annelie Rabie, wat ook verlede Vrydag haar sestigste verjaardag gevier het, het almal teenwoordig behoorlik op hulle tone gehou met 'n sprankelende, passievolle praatjie oor die betrokkenheid van vrouens in die samelewing.
"Ons moet ophou om op onsself te fokus," het sy gesê. "Elkeen van ons wat hier is het die mag en die talent om 'n verskil in iemand se lewe te maak – al wat soms kort is die wil om iets daaraan te doen. 'n Voorbeeld hiervan is 'n bakkery wat ons onlangs op Leeu-Gamka oopgemaak het. Ons verkoop brood daar teen R6 per brood en maak nog genoeg wins om die bakkery se kostes en salarisse te dek.
"Hoe is dit moontlik dat Jan Publiek tussen R12 en R13 vir 'n brood betaal? Nog 'n voorbeeld is brandstof, wat sowat R4 per liter kos, maar ons aanvaar maar net dat ons amper R13 per liter moet betaal. Met hierdie traak-my-nie-agtige houding gaan voedsel sekuri-teit en voorsiening nog 'n groot kopseer in hierdie land van ons word. Vrouens moet saamstaan en meer betrokke raak by openbare debatvoering en groepe stig wat byvoorbeeld die gebrek aan die vakke landbou en huishoudkunde in baie skole sal aanspreek. Ek kan dalk nie eers 'n eier bak nie maar ek is passievol oor die politiek en weet hoe om 'n lewendige debat te voer en 'n verskil in iemand anders se lewe te maak. Nie almal van ons is lief om in die openbaar te praat nie maar ek weet elkeen van julle het julle eie, unieke talente wat ook 'n verskil in iemand se lewe kan maak. Gebruik dit en word aktief betrokke in die samelewing."
Dr. Rabie is staande toegejuig, waarna Oudtshoorn se eie sjokolateur, Marieta Lambrechts, 'n insiggewende praatjie oor sjokolade gegee het. "Die goeie nuus is dat ordentlike sjokolade nie vet maak nie," het Lambrechts, wat opleiding in België ontvang het, gesê. "Inteendeel, 'n goeie donker sjokolade is goed vir mense wat aan hoë bloeddruk lei. Dis die goedkoop sogenaamde "sjokolade" wat 'n mens in baie kettingwinkels en kafees kry wat baie suiker bevat en gevolglik nie so gesond is nie. Goeie sjokolade handhaaf 'n fyn balans tussen bitter en soet."
Hierna was bekroonde filmvervaardiger Koos Roets aan die beurt. "Dit lyk my Klaarstroom is vining besig om SA se 'Hollywood' te word," het hy geskerts. "Met al die films onlangs hier vervaardig is en die een wat nou verfilm word is dit seker nie so vêrgesog nie. Ek hoop Afrikaanssprekendes waardeer die bloed, sweet en trane wat in so 'n film gaan, want teen 'n koste van ongeveer R11 miljoen per film is dit onwaarskynlik dat sulke films ooit 'n wins sal wys. Leon Schuster maak seker baie geld, maar as julle mooi daaraan dink is sy films nie in Afrikaans nie, so hy het 'n reuse buitelandse mark."
Roets het voorts 'n samevatting van sy indrukwekkende loopbaan vir mense geskets. "Twee van die briljanste mense wat ek in my loopbaan teëgekom het is Jamie Uys en Don Leonard," het hy gesê. "Hulle was meesterlik met alles wat hulle aangepak het en het kleurvolle lewens gelei.
Die hoofgasspreker was Erika Lubbe, president van die VLV Wes-Kaap, wie se tema My droom, my inspirasie was.
Die bestuur van die Sirkel Suid-Kaap se VLV is van links: Elsabe Olivier, Melain Brandt, Sirkel President Loraine Symington en President van die VLV Wes-Kaap, Wes-Kaap, Erika Lubbe.