Update
CALITZDORP NUUS - Trane van dankbaarheid het geloop toe die eerste vragmotor wat verligting aan boere bring, Saterdagoggend met 34 ton mielies by 'n groot skuur naby Calitzdorp Spa aankom.
"Ek het ons boere se droogtenood Maandagoggend aan Burre Burger oorgedra, en hier kom die voer aan," het George Naudé, een van die boere langs die onderste deel van die Olifantsrivier gese. "Ek het voer gevra om vir ons boere hoop te gee."
Die voer is deur Burger se bemiddeling deur boere van Cedarville in die Oos-Kaap geskenk. Danie Erasmus, bestuurder van die vragmotor met twee grootmaathouers het omstreeks middernag in Oudtshoorn aangekom. Die voertuig van Labucon van Pretoria is gratis beskikbaar gestel vir die vervoer van die mielies.
Naudé het Erasmus Saterdagoggend in die dorp ontmoet en na Saag Jonker se reuseskuur op die plaas Badshoogte naby Calitzdorp Spa begelei.
Boere en hul gesinne het in die snerpende koue op die aankoms van die vragmotor gewag. "Ek het die voer gevra omdat ek vir julle wil hoop bring," het 'n aangedane Naude gesê.
Almal het tevergeefs geveg teen die trane toe Elise Lerm, wat al jare saam met haar man Jannie op Badshoogte boer, in gebed die Here gedank het vir die uitkoms. "Dit is swaar om so swaar te kry. Ons loof U dat u met mense se harte gepraat het. Ons weet die voer kom van U af."
Die twee vraghouers vol mielies is in die skuur afgelaai terwyl almal toekyk.
Na die eerste vrag mielies verlede Saterdag reën dit hierdie week mielies danksy Naudé se aanvanklike beroep en vrygewigheid van boere elders in die land.
Nog 'n vragmotor met 34 ton mielies het Dinsdag stilgehou. Vandag word 'n konvooi van 10 vragmotors met mielies wat uit die Bothaville-distrik geskenk is, verwag.
Gesinne op een van die hope mielies wat afgelaai is. Foto: Tisha Steyn
Altesaam 32 landbouers boer in die gebied buite Calitzdorp, wat laas in 2016 'n leibeurt uit die Stompdrift-Kammanassie Besproeiingskema ontvang het. Die twee damme het tans onderskeidelik net 5.6% en 3.6% water. Die Nelsrivierdam het 14.1% en die Gamkapoortdam 0%.
Omdat hierdie boere weens die droogte nie lusern kon plant nie, moes hulle hul volstruis- en veegetalle drasties verminder. Van hulle het droogtehulp ontvang, wat nie op volstruise van toepassing is nie, maar net vir vee.
Volgens Ernie Fourie, lyk die Gamkaberg-area net so erg. Die Gamkapoortdam is die afgelope drie jaar dolleeg. "Ons het voorheen ook deur erge droogtes gegaan, maar hierdie is die ergste. Die volstruise het ons deur die ander droogtes gedra."
Die mielies is gelykop verdeel tussen die 32 boere, wat elk sowat 22 50kg-sakke ontvang het. Hulle het Maandag met dankbare harte die mielies gesak en huis toe geneem.
Lees 'n vorige artikel: Trane vloei oor voer
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'