CALITZDORP NUUS - Trane van dankbaarheid het geloop toe ‘n vragmotor met 34 ton mielies Saterdagoggend by ‘n groot skuur naby Calitzdorp Spa aankom.
“Ek het ons boere se droogtenood Maandagoggend aan Burre Burger oorgedra, en hier kom die voer aan,” het George Naudé, een van die boere langs die onderste deel van die Olifantsrivier gese. “Ek het voer gevra om vir ons boere hoop te gee.”
Die voer is deur Burger se bemiddeling deur boere van Cedarville in die Oos-Kaap geskenk. Danie Erasmus, bestuurder van die vragmotor met twee grootmaathouers het omstreeks middernag in Oudtshoorn aangekom. Naudé het hom Saterdagoggend ontmoet en na Saag Jonker se reuseskuur op die plaas Badshoogte naby Calitzdorp Spa begelei.
Boere en hul gesinne het in die snerpende koue op die aankoms van die vragmotor gewag. “Ek het die voer gevra omdat ek vir julle wil hoop bring,” het ‘n aangedane Naude gesê.
Almal het tevergeefs geveg teen die trane toe tannie Elise Lerm, wat al jare saam met haar man Jannie hier boer, in gebed die Here gedank het vir die uitkoms. “Dit is swaar om so swaar te kry. Ons loof U dat u met mense se harte gepraat het. Ons weet die voer kom van U af.”
Die twee houers vol mielies is in die skuur afgelaai terwyl almal toekyk. Miskien is dit die stof wat die oe so laat traan het.
Altesaam 32 landbouers boer in die gebied wat laas in 2016 ‘n leibeurt uit die Stompdrift-Kammanassie Besproeiingskema ontvang het. Die twee damme het tans onderskeidelik net 5.6% en 3.6% water. Die Nelsrivierdam het 14.1% en die Gamkapoortdam 0%.
Omdat hierdie boere weens die droogte nie lusern kon plant nie, moes hulle hul volstruis- en veegetalle drasties verminder. Van hulle het droogtehulp ontvang, wat nie op volstruise van toepassing is nie, maar net vir vee.
“Ek boer al jare hier op Buffelsjagfontein met lusern, skaap en volstruise, wat ek tot op ses maande grootmaak,” het oom Jannie Lerm gesê.
Oom Hennie Terblanche, wat al 49 jaar met volstruise, beeste en skape hier boer, het gesê dit is die droogste wat hy nog die Klein Karoo in al die jare gesien het.
Volgens Ernie Fourie, wat sedert 1972 hier boer, lyk die Gamkaberg-area net so erg. Die Gamkapoortdam is die afgelope drie jaar dolleeg. “Ons het voorheen ook deur erge droogtes gegaan, maar hierdie is die ergste. Die volstruise het ons deur die ander droogtes gedra.”
Die mielies is gelykop verdeel tussen die 32 boere, wat elk sowat 22 50kg-sakke sal ontvang. Hulle het Maandag met dankbare harte die mielies kom sak om huis toe te neem.
Johnny Kiewiets, Willem Solomons en Jan Johannes, wat op die plaas Moses Hope werk, is saam met die boere baie dankbaar vir die mielies. “Die rivier staan, ons het in 2016 laas besproeiingswater gekry, en hierdie is die ergste tyd wat ek in 20 jaar beleef het,” het Solomons gesê.
Boere en hul gesinne by die trok vol mielies voordat dit afgelaai is. Foto's: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Klein Karoo nuus'