Topkwaliteit boerbokke van bekende stoeterye in die Wes- en Oos-Kaap het teen mekaar meegeding in 'n interstreek-kampioenskap, en pragtige merino's en dorpers is ook met 'n kundige oog beoordeel. Die uitslae sal bekend gemaak word sodra dit van die beoordelaars ontvang word.
Die saalperdkampioenskap het gesorg vir asemrowende vertonings deur die pronkende perde wat moeiteloos en sierlik hul passies in die reënweer uitgehaal het.
Die kultuurskou was 'n hoogtepunt, van Marie Gerber wat haar ganse gepluk het, tot haar man Frans wat botter gekarring het, Lieb Scheun wat swepe vleg en Schalk Rabie wat sy unieke versameling swepe uitgestal het.
Malie Tolken het brood in 'n buite-oond gebak, en Hettie Myburgh het gewys hoe 'n mens die allerfraaiste babarokkies met smokwerk versier.
Jan Bothma en sy seun Jan Junior het ure lank geroer aan 'n pot vol olyfseep en Lydia Swanepoel het gewys hoe skaapwol gekam, gespin en geweef word.
Geen skou is volmaak sonder skoukoninginne nie, en vanjaar is Zandeli Senekal (16) van die Hoërskool Oudtshoorn aangewys as Mej. Skou 2012. Johanli Gous (19) van Prins Albert Kollege is aangewys as 1ste prinses, en Nita Vosloo (26) van Laingsburg is die 2de prinses.

Jan Bothma en sy seun Jan Junior wys hoe olyfseep gemaak word. Hulle moes ure lank die pot oppas en gereeld roer.
ARTIKEL EN FOTO'S: TISHA STEYN