OUDTSHOORN NUUS - Na gemoedere oor wateronderbrekings in Schoemanshoek hoog geloop het, glo die Oudtshoorn-munisipaliteit hulle het die oorsaak van die onderbrekings gevind.
Volgens Gerhard Smith, 'n inwoner van Schoemanshoek, moet hulle bottels water stoor en water tap wanneer die watervloei in werking is. "Die water verdwyn net eenvoudig, sonder waarskuwing."
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het Dinsdag gesê: "Vanoggend is 'n pypbreek net onderkant die Ou Tol opgemerk.
"Die pypbreek is egter so dat feitlik al die water diep onder die teerpad deurvloei na die rivier en min daarvan kan op die oppervlak gesien word."
Oliphant het namens die munisipale waterwerke verduidelik dat water uit die Raubenheimerdam na 'n chloorkontaktenk vloei, vanwaar die water dan verder met twee pyplyne na die dorp se reservoirs vloei.
"Op die sogenaamde ou pyplyn is daar twee drukbreekbakke waar die druk in die pyplyn verminder word. Die eerste hiervan is onderkant die Bergoord en die ander een by Rooderand in Schoemanshoek gelee.
"Verbruikers tussen hierdie twee drukbreekbakke het die afgelope tyd met wateronderbrekings gesukkel.
"Aanvanklik is daar vermoed dat daar iewers 'n pypbreek is of dat een van die vier kleppe voor die eerste drukbreekbak nie heeltemal oopmaak nie en dus veroorsaak dat die pyplyn nie genoeg water lewer nie."
Oliphant sê voordat die fout naby Ou Tol gevind is, is al vier die kleppe ondersoek, maar geen fout kon daar gevind word nie.
Volgens haar was munisipale werkers Dinsdag besig om 'n pypbreek naby die Kango-grotte te herstel waarna hulle aandag aan die breek naby die Ou Tol sou skenk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'