Update
OUDTSHOORN NUUS - Die boer van Scheurfontein, naby Beaufort-Wes, wat op sy padstal se dak geslaap het om geld in te samel vir die vervoer van veevoer het sy mikpunt meer as verdubbel.
Johnny Theunissen was twee weke gelede op die Oudtshoorn Courant se voorblad nadat hy onderneem het om R50 000 in te samel deur elke nag op die dak te slaap.
Hy het hierdie week gesê hy het met sy poging vanaf 23 tot 27 Oktober meer as R63 000 ingesamel.
"Behalwe daarvoor het 'n maatskappy ook die volle vervoerkoste van drie vragte voer geborg wat waarskynlik meer as R45 000 werd is."
Theunissen het twee weke gelede gesê die droogte wat die Karoo teister is die ergste wat hy nog ooit as boer beleef het.
Intussen het Agri SA vandeesweek aangekondig dat verskeie organisasies en individue saamgespan het om 31 vragte voer vanaf skenkers na Beaufort-Wes te vervoer.
Die konvooi was vandeesweek onderweg en sou gister (Donderdag) op Beaufort-Wes aankom.
Alhoewel hy glad nie by hierdie projek betrokke is nie, sê Theunissen dat dit weereens 'n bewys is van hoe boere en sakemense saamstaan om die landbou te ondersteun.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'