"Dankie Oudtshoorn Courant."
So het die pensioenaris van Beaufort-Wes oor wie se penarie twee weke gelede berig is, dié week gesê nadat een van die polisiemanne wat haar geld skuld 'n gedeelte daarvan betaal het.
Paulina Galant (75) het haar uit radeloosheid tot die koerante gewend nadat al haar vorige pogings om haar geld van twee polisiebeamptes te kry, onsuksesvol was.
Galant sê sy verkoop huishoudelike items soos onder andere vleis, hoender en toiletpapier om haar karige pensioen aan te vul. Sy het oorspronklik net op bejaardes gekonsentreer, maar het die twee polisiebeamptes wat met allerhande beloftes na haar gekom het, vertrou. Die adjudant-offisier skuld haar R1 500 en die konstabel R860. Laasgenoemde het na die koerantberig skielik R530 van sy skuld betaal en beloof om die balans spoedig te vereffen. 'Ek hoop die adjudant-offisier volg sy voorbeeld," het Galant die week gesê.