OUDTSHOORN NUUS - Die gemeenskap van Oudtshoorn is in rou ná die skielike heengaan van André Claassen (61), geliefde eienaar van Smitswinkel, wat Sondagoggend, 26 Oktober, aan 'n hartaanval oorlede is.
Claassen, wat oorspronklik in Oudtshoorn grootgeword het en ook hier in die weermag gedien het, het saam met sy lewensmaat van die afgelope 14 jaar, Jenna Potgieter, tien jaar gelede die gewilde Smitswinkel oorgeneem.
"Ons het van Port Elizabeth af hierheen getrek. Hy het altyd gesê hy sal nooit terugkom nie, maar tog het die lewe hom weer hierheen teruggebring," vertel sy.
Sy beskryf sy laaste oomblikke as vreedsaam en vol liefde.
"Dit was asof die dag vir hom georkestreer was," sê Jenna sag.
"Hy was nooit lief vir Sondae nie, want dit het hom herinner aan sy kinderdae. Hy het op 'n plaas tussen Oudtshoorn en De Rust grootgeword en moes elke Sondag teruggaan koshuis toe op De Rust. Hy het daardie gevoel van afskeid altyd gehaat. Maar hierdie Sondag was anders. Hy het nie van hitte gehou nie, en toe reën dit juis daardie dag, presies soos hy daarvan gehou het. Sy kinders was by hom toe hy sy oë toegemaak het. Dit was asof sy sirkel daardie Sondag mooi en volledig gesluit het."
André het die afgelope vier jaar met hartversaking gesukkel.
Sy beskryf André as iemand met 'n groot hart, altyd bereid om vir ander te gee en verál bekend vir sy onwrikbare liefde vir diere.
"Sy hart het hom dalk in die steek gelaat, maar sy hart het nooit in enigiets anders gefaal nie. Hy het altyd diere ingeneem, dit het hom ongelooflik baie vreugde verskaf om vir hulle 'n nuwe tuiste te gee," sê sy.
Volgens Jenna het sy vyf kinders, Jack Claassen, Harley Rose, Hudson, Hawk André en Harry Heart Potgieter, sy lewe gevul met doel en liefde.
"Hy was 'n fantastiese pa en het vir sy kinders geleef. Elkeen dra iets van hom, die Claassen-oë, sy sterk bou, sy kenmerkende wenkbroue of neus. Hy het vir hulle 'n ongelooflike lewe geskep en sy liefde vir diere aan hulle oorgedra," vertel sy.
Jenna sê André se oudste seun, Jack, sal nou in sy pa se voetspore volg en die winkel bestuur, want hy wil sy pa trots maak.
"Ons is oorweldig deur die onder-steuning van die gemeenskap, kliënte en personeel. Ek hoop hy het geweet hoe geliefd hy was, nie net deur ons nie, maar deur almal wat hom geken het," sê sy.
'n Gedenkdiens sal Sondag 2 November om 11:00 by Smitswinkel gehou word.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’