Goeiemôre Kalender
Ek sien jy het 'n nuwe blaadjie omgeslaan net soos ek (Nuwejaarsvoorneme né) maar anders as ek moet jy jou voorneme behou. Jou belofte aan my is om vir 12 maande 365 dae teen die muur te hang, nooit moeg te lyk of swaar te dra aan al die dae en maande nie en die pyn verduur as ek jou dae doodtrek en maande afskeur of sommer net met 'n pen op jou krap.
Maar, jy hou ook geheime binne jou wat jy nie kan verklap nie; jy kan nie vir my sê of daar nog 'n môre gaan wees vir my nie, watter trauma of vreugde in jou dae vir my opgesluit lê nie en ek kan nie nou vir jou sê of ek 'n nuwe belangrike boodskap iewers op een van jou vele dae gaan tatoeëer nie.
Sommige dae staan ek in afwagting voor jou en tel die dae af na 'n belangrike gebeurtenis op 'n spesifieke dag, ander dae is ek hartseer as ek dink aan 'n geliefde se verjaarsdag en hulle is nie meer met ons nie.
Dus, my liewe kalender, vergewe my en mag ek jou gebruik as kompas vir hierdie nuwe jaar wat voorlê en elke dag wat ek kan doodtrek op jou, sien as genade van bo, want jy sien net soos jou maande en dae genade is van bo is myne ook. Mag ek hierdie jaar elke dag jou beter benut en dalk net miskien sal ons albei beter voel.
Yvonne Scheepers