Saturday 20:08
scattered clouds
Tomorrow:
overcast clouds 20°
Oudtshoorn
'n Mens kan skaars glo dat ons hierdie jaar 25 jaar van demokrasie in Suid-Afrika vier; en hoe besonders om ook 'n kwarteeu van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te vier. Oor 25 jaar is daar baie mense wat erkenning moet kry vir hul bydrae tot die KKNK: Die personeel wat deur die jare by die fees gewerk het; direksielede wat hul tyd gegee het om die bestuurspanne raad te gee en ondersteuning te bied; dorpenaars wat vrywillig sedert die eerste fees ingespring het om te help. Dan is daar die feeshoofde wat oor die dekades die skip gestuur het; die stigterslede wat die saadjie geplant het en wat gesorg het dat die kultuurboom wortels skiet in die Klein-Karoo; en die borge wat die boompie jaar na jaar water gee, baie al van die eerste fees af.
Die KKNK sou egter nie bestaansreg gehad het as dit nie was vir die getroue feesgangers nie, kultuurdiere wat al vir 25 jaar migreer na Oudtshoorn so net voor die herfs en met oorgawe kuns en kultuur hier kom vier. Julle is die fees se spesiale gaste. En aan Oudtshoorn en sy mense, dankie dat julle met besonderse gasvryheid jaarliks al die kultuurdiere in die dorp verwelkom. Hulle laat tuis voel en almal laat uitsien om weer te kom.
Die jaar se program is saamgestel om nie net 'n nostalgiese viering van 25 jaar van die KKNK te wees nie, maar ook 'n viering van hoe ver ons land en sy mense oor die kwarteeu gekom het. Mag die kunste floreer in die Klein-Karoo en laat ons voortbou op die goeie van dié land wat ons almal so liefhet. Geniet die fees!
Hugo Theart
Artistieke direkteur: Kunste Onbeperk
'n Jaar na die geboorte van ons demokrasie word die eerste Afrikaanse kunstefees ook gebore. Sedert sy ontstaan in 1995 het die KKNK slegs vyf hoofindoenas gehad wat die rigting en ries van die fees bepaal en uitgevoer het.
Nic Barrow het in 1992 die Grahamstadfees saam met sy vrou, Ferda, en hulle dogters, Olga en Nicolene, bygewoon. Die fees het 'n groot indruk om hom gemaak en hy het besef dat daar geen Afrikaanse fees in die land bestaan nie. "Ek het besef dat daar weinig Afrikaans op die fees was aangesien dit merendeels Engels was. Ek het 'n vergelyking tussen Oudtshoorn en Grahamstad getref en besef hulle het baie in gemeen." Barrow vertel dat hy Andrew Marais van Nasionale Pers by 'n wynproe-geleentheid gepols het oor die moontlikheid van 'n fees en borgskap. Dit het uitgeloop op 'n borgskap van R250 000 en die wiele was aan die rol. Die konsep het op 22 Januarie 1994 tydens 'n vergadering gestalte gekry. Die eerste komitee het uit Oudtshoorniete Nic Barrow, Danie Lategan, Leib Freedman, Santi de Jager, Diane de Jager, Rosie Schoeman, Nico le Roux, Vincent Abrahams, Koos Marais, Annie Adams, Danien de Klerk, Josephine Zulu, Jans Rautenbach, Marius Potgieter, Liz Olivier, Erika Rautenbach en Rhodé Snyman bestaan. Aanvanklik is oorweeg om die fees die Langenhovenfees te noem, maar daar is op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) besluit. Die dramaturg Pieter Fourie, is genader om die trein op die spoor te kry en te hou. Op 7 April 1995 open die land se heel eerste Afrikaanse kunstefees en duur tot 13 April met nege dramaproduksies op die hooffees. Op die musiekverhoog is Laurika Rauch, Nataniël en Rocco, Soli Philander, Elsabe Zietsman, Thandi Klaassen en Johannes Kerkorrel. Kaktus op die vlaktes was ook deel van die eerste KKNK.
Pieter Fourie (1995 - 1998) Toe Pieter Fourie in 1994 gevra is om die uitvoerende feesdirekteur van die KKNK te wees het hy 'n magdom ervaring saamgebring. Karen Meiring (1999 - 2007) Met die heel eerste KKNK het Pieter Fourie vir Karen Meiring gekies as feesorganiseerder vir 1995 se eerste feesreis. Tussen haar en die destydse redakteur van die Oudtshoorn Courant, Rhodé Snyman, Liz Olivier en 'n faksmasjien word die eerste KKNK gereël. Sy het die pos tot in 1998 beklee en is in 1999 aangestel as feesbestuurder. Die pos is in 2001 verander na besturende direkteur wat sy tot 2007 beklee het. Brett Pyper (2008 - 2013) se eerste fees in 2008 sê hy, het gepaardgegaan met nog 'n groot gebeurtenis in Suid-Afrika - beurtkrag. Sy ervaring as hoof van die KKNK het vir hom bewys dat "die grootsheid van Afrikaans te doen het met sy vermoë om ontvanklik, skeppend, menslik en openhartig te wees". Rhodé Snyman (2014 - 2017) neem verlof by die Oudtshoorn Courant en werk as vrywilliger by die eerste KKNK waar sy sorg vir kommunikasie en skakeling. Na die tweede fees word sy aangestel as Pieter Fourie se assistent en mediabeampte. In 2014 neem sy waar as bedryfshoof en word daarna permanent in die pos as uitvoerende hoof aangestel totdat sy in 2017 bedank. Hugo Theart (2018 - 2019) het in Junie 2015 by Kunste Onbeperk aangesluit as kreatiewe hoof. In Januarie 2018 neem hy die leisels oor as waarnemende uitvoerende hoof. Sedert Januarie 2019 is hy aangestel as artistieke direkteur wat die uitvoerende hoof-posisie vervang.
Madiba is in 2001 gevra om die vryheid van die dorp wat deur
die stadsraad aan die KKNK gegee is, te kom oorhandig. Meer as 1 500 mense het
sy toespraak op die sportstadion bygewoon, wat hy afgesluit het met die wense
dat dit goed sal gaan met Afrikaans en sy sprekers en verskonend bygevoeg, “Ek
hoop nie dat ek hierdie Afrikaanse fees te veel bederf het met my
tokkelos-Afrikaans nie.”
Een van Jans Rautenbach se onthou-oomblikke van die millennium-fees was ‘n reuseboer van Bethlehem wat met een gebraaide tjop en een kaalgeknaagde tjopbeen by die sogenaamde bruinskool se braaivleisstalletjie aangedring het op die identietit van die braaier. Na ‘n lang gesukkel word die twee bewende tjopbraaiers aan hom uitgewys. “Wie van julle twee mannetjies het hierdie tjop gebraai?” Toe hy sien nie een van hulle gaan na vore kom nie, sê hy: “Laat ek julle net sê, dis die lekkerste f.... tjop wat ek nog ooit geëet het.”
Tannie Evita Bezuidenhout het op 10 April Vryheid van die Dorp in Oudtshoorn met 'n luide applous van aanhangers by die Queens Hotel in Baron van Reedestraat ontvang. Die burgemeester, Colan Sylvester, het op die balkon van die Hotel haar sertifikaat aan haar oorhandig. Evita het haar aanhangers van die balkon af gegroet en gesê: "Dit is voorwaar 'n eer om die Vryheid van die pragtige dorp te ontvang. Nou het ek iets wat Zuma nooit sal hê nie - die vryheid tot u dorp."
Op die tweede dag van die fees in 2016 het byna 40 mm reën
in slegs 30 minute geval. Feesgangers wat op sypaadjies gestap het was omring
deur riviere wat in strate afgestroom het en die voetbrug tussen die
rivierbuurt en die dorp was onder water. Motors het hulself skielik in
enjindiep water bevind en Baron van Reedestraat het tot stilstand gekom. Na die
aanvanklike chaos en vere reg- en droogskud, het die fees weer aangegaan.
Een van die hoogtepunte van die KKNK in 2012 was die straatoptog met
reusepoppe en vlieënde volstruise wat feesgangers in Baron van Reedestraat na
kameras laat gryp het. Die volstruise het na die optog hulle dors by die
munisipale spuitfontein gaan les.
Die feeskoerant Krit raak in 1996 deel van
die KKNK en dink jaarliks gekkighede op 1 April uit, o.a. dat
Malvolstruissiekte in Oudtshoorn uitgebreek het, die KKNK sou na George skuif,
Dowwe Dolla verwag Robbie Wessels se baba, Julius Malema gaan
op die grootverhoog optree en daar heers in groot kommer oor die ongehude moeders landwyd wat presies nege maande na die KKNK geboorte skenk.
Dié probleem noop Krit om op 1 April 2000 gratis kondome saam met die koerant
te versprei.
Met president Thabo Mbeki se besoek aan die tiende KKNK was
die fees amptelik die enigste fees wat deur twee staatshoofde besoek is. Mbeki
het die fees geopen en ‘n sekerheidsnagmerrie ontketen toe hy die strate
invaar. Hy het van die verhoog af gestap en tot groot verwarring en geskarrel,
in die rigting van die museum begin stap. Op ‘n verbyloper se vraag, “Thabo
Mbeki, wat maak jy hier?” antwoord hy, “Wel, dis ‘n kunstefees en ek het kom
sing.”
Die KKNK het in 2012 die Handspring Puppet Company gekies as feeskunstenaar en hul uitstalling by die fees het bestaan uit poppe wat die afgelope twee jaar in hul produksies gebruik is, waaronder, die perdepoppe van die produksie, WarHorse. Dié uitstalling se naam, Living things is gekies omdat dit lewelose vorms is wat deur kunstenaars in die uitvoering tot lewe gebring word.
Behalwe dat die KKNK die land se eerste Afrikaanse fees was en die moederfees is van talle ander feeste op koppies, in bosse, op universiteitsdorpe en selfs op skepe op die waters, is dit ook ‘n fees van vele ander eerstes.
Die KKNK is die eerste fees in die land wat deur ‘n munisipaliteit tydens ‘n spesiale raadsvergadering, die vryheid van die dorp ontvang.
Die KKNK is die eerste fees wat ouderdomsbeperkinge op uitstallings en produksies geplaas het. Daar was drie kategorieë: Melkbaard (MB) geskik vir volwassenes en kinders, Stoppelbaard (SB) nie geskik vir kinders nie en krapperige elemente bevat en Hardebaard (HB) slegs vir volwassenes omdat dit enigiets kan bevat.
Die KKNK was in 2000 die land se heel eerste fees in die nuwe millennium.
Die Oudtshoorn-fotograaf, Hans van der Veen het die afgelope 24 jaar elke KKNK op film vasgelê. Sedert 2010 is hy die KKNK se amptelike fotograaf.
Oudtshoorn Courant proudly displays the “FAIR” stamp of the Press Council of South Africa, indicating our commitment to adhere to the Code of Ethics for Print and online media which prescribes that our reportage is truthful, accurate and fair. Should you wish to lodge a complaint about our news coverage, please lodge a complaint on the Press Council’s website, www.presscouncil.org.za or email the complaint to enquiries@ombudsman.org.za. Contact the Press Council on 0114843612.
Copyright 2025 Group Editors Company (Pty) Ltd, Registration Number 1963/002133/07 t/a Oudtshoorn Courant