Die Amici-strykkwartet, gestig in Kaapstad in 2006, met Suzanne Martens (viool), David Bester (viool), Karin Gaertner (altviool) en Peter Martens (tjello), word gereken as een van Suid-Afrika se beste ensembles met van die land se mees gerespekteerde strykers.
Hulle uitvoering, Sielsnare, vind op Vrydag, 14 Augustus 15:00 in die NGK Park plaas, met ’n repertoire wat bestaan uit boeiende en uiteenlopende werke, waaronder Mozart se beroemde Eerste Salzburg Simfonie, Hendrik Hofmeyr se Tweede Strykkwartet met sy fabelagtige fuga en Dvorák se geliefde Amerikaanse Strykkwartet, ’n mengsel van Boheemse en Amerikaanse volksmusiek.
Verder kan feesgangers uitsien na twee uitvoerings deur die Evolution of 4-strykkwartet, gestig in Pretoria in 2011. Die lede van dié kwartet, Johanna Roos (viool), Ané van Staden (viool), Valery Andreev (altviool) en Jessica Bailey (tjello) voer musiek van hoogstaande gehalte deur plaaslike en internasionale komponiste uit. In 2012 verskyn hulle op BBC World News met hulle uitvoering by die Wieg van die Mensdom, waarmee hulle fondse vir minderbevoorregte musiekstudente in Suid-Afrika ingesamel het.
Op Vrydag, 14 Augustus 18:00, sluit hulle by die Charl du Plessis-trio, Magdalene Minnaar (sopraan) en Musanete Sakupwanya (tenoor) aan om die gehoor in Eine, Kleine Jazzmusik op ’n opwindende jazz-reis deur die meesterlike musiek van Mozart, verwerk in die unieke styl van Suid-Afrika se voorste Steinway-kunstenaar, Du Plessis, te neem. Op die program is onder meer die Elvira Madigan en Rondo alla Turca.
Saterdagoggend, 15 Augustus 09:30, neem hulle die gehoor vanaf Wene na die Karoo en Terug in ’n musikale reis na kontrasterende wêrelde met Beethoven se Strykkwartet op.18 no.6, Van Wyk se Vyf Elegieë vir Strykkwartet en Schubert se Rosamunde. Albei hierdie uitvoerings vind in die NGK Park plaas.
Feesgangers kan hul musiek-ervaring aanvul met smul-etes by ’n verskeidenheid restaurante en koffiewinkels op die dorp, deur die omgewing se top wyne te proe en by die dorp se galerye in te loer vir uitstallings deur die vele kunstenaars wat hier woon, asook ander besoekende kunstenaars.