OUDTSHOORN NUUS - Buiten ’n uitsonderlike klassieke musiekprogram bied Klein Karoo Klassique vanjaar ook ’n wye verskeidenheid gratis aktiwiteite aan, wat die fees toeganklik maak vir almal wat die unieke winterfees wil beleef.
Die 17de Klein Karoo Klassique vind van 7 tot 9 Augustus in Oudtshoorn plaas en bied ’n kombinasie van klassieke musiek, literatuur, visuele kuns, kos en wyn.
Twee gratis ontbytkonserte vorm deel van die feesprogram.
• Saterdag 8 Augustus: 08:00 - Oudtshoorn-pianis, John Theodore tree in die banketsaal op.
• Sondag 9 Augustus: 08:00 - Steinway-kunstenaar, Charl du Plessis.
Feesgangers kan die konserte saam met ’n ontbyt geniet wat deur Nostalgie Restaurant voorberei word.
Charl du Plessis lei ook gratis musiekgesprekke ná uitgesoekte uitvoerings. Dié informele sessies bied die gehoor die geleentheid om meer te hoor oor die musiek, kunstenaars, hul inspirasie en die lewe op die verhoog.
Gesprekke volg ná Postcards (7 Augustus), Trio Contraire (8 Augustus), Take Four Piano Quartet (8 Augustus), Unheard (of) (9 Augustus) en Cellissimo (9 Augustus).
Boekgesprekke
Boekliefhebbers kan uitsien na drie gratis literêre gesprekke wat deur Human & Rousseau en Kwela moontlik gemaak word.
• Vrydag 7 Augustus: Bonnie Espie gesels oor Lifting the Lid.
• Saterdag 8 Augustus: Antjie Krog gesels oor haar vertaling van Olive Schreiner se From Man to Man.
• Sondag 9 Augustus: Irma van Zyl gesels oor haar jongste spanningsverhaal, Kanniedood.
Visuele kunsuitstalling
Die fees se visuele kunsuitstalling, saamgestel deur René Scribante, kan daagliks gratis in die banketsaal en ou raadsaal besoek word. Die uitstalling, In die toonsoort van lig, ondersoek die verhouding tussen kleur, musiek, komposisie en emosie. Werke deur kunstenaars uit die Klein-Karoo en Tuinroete nooi besoekers uit om hul eie musikale interpretasie van die kunswerke te ontdek.
• Sondag 9 Augustus bied Scribante ’n begeleide rondleiding deur die uitstalling aan.
ReWOLusie
Die gemeenskapsprojek Oudtshoorn ReWOLusie dra weer by tot die feesatmosfeer deur brei- en hekelwerk regdeur die terrein te vertoon. Besoekers kan self blokkies brei of hekel wat ná die fees in komberse omskep en aan minderbevoorregte gemeenskappe geskenk word.
Komberse wat reeds voltooi is, sal ook tydens uitvoerings in die burgersentrum beskikbaar wees om feesgangers warm te hou en kan teen ’n donasie of skenking van wol verkry word.
Inleiding tot orkes vir skoolgroepe
Skoolgroepe van gr. 4 tot 9 kan onder leiding van maestro Richard Cock op ’n interaktiewe wyse kennis maak met die verskillende instrumentfamilies van ’n simfonieorkes. Toegang is gratis vir voorafbespreekte skoolgroepe.
• Maandag 10 Augustus bied bekroonde koorleier, André van der Merwe, ’n gratis werksessie vir koorleier uit die Klein-Karoo en Tuinroete aan. Die sessie fokus op nuwe idees, praktiese vaardighede en inspirasie vir koorontwikkeling.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’