OUDTSHOORN NUUS - 'n Pynlike maar belangrike hoofstuk uit Oudtshoorn en Dysselsdorp se geskiedenis word binnekort op die silwerdoek vasgevang met die dokumentêr Uitgesmyt, die nuutste projek van Dumu Entertainment.
Dumu Entertainment is gestig deur Oudtshoorn-seun, Duwayne Murphy, 'n man met 'n passie vir die filmbedryf. Hy is ook die skrywer en vervaardiger van die film.
Volgens hom fokus die film op die gedwonge verskuiwings wat gedurende die apartheidsjare onder die Groepsgebiedewet plaasgevind het.
"Honderde gesinne van North End, Vaaldraai en Klippies Eiland in Oudtshoorn, asook Bloupunt in Dysselsdorp, is destyds uit hul huise verwyder en sonder regverdige kompensasie elders hervestig. Ons wou daardie stilte breek.
"Baie jongmense ken nie die volle verhaal nie, en dit het gevoel asof 'n swaar stilte steeds oor daardie tydperk hang. Met Uitgesmyt gee ons nie net 'n stem aan die mense wat dit deurgemaak het nie, maar ons bou ook 'n brug vir die jeug om hul eie geskiedenis te leer ken."
Murphy verduidelik verder dat dit vir die span belangrik was om spesifiek Oudtshoorn en Dysselsdorp se verhale te vertel.
"Dit is ons eie mense se storie. Die pyn, die verlies en die herinneringe leef steeds onder families wat vandag hier woon. Ons hoop dat deur dit te vertel, daar genesing kan kom."
Behalwe dat dit 'n storie van historiese trauma uitlig, het die projek ook jongmense van die gemeenskap betrek. Vier plaaslike jong volwassenes, Robbi Williams (rugbyspeler van Bridgton RFC), Raqelle Melville (leerder van Hoërskool Môrester), Duwaylin Maart en Stacey-Lee Jacobs (albei werkloos), het 'n week van praktiese opleiding en mentorskap op die stel ontvang. Hulle het saam met die filmspan gewerk en eerstehands gesien hoe 'n dokumentêr geskep word.
Volgens Murphy was dit doelbewus: "Ons wou juis jongmense van verskillende agtergronde betrek, van 'n leerder tot werklose jong volwassenes. Dit was vir ons belangrik dat hulle verteenwoordigend is van die gemeenskap en dat hulle 'n kans kry om vaardighede te leer wat hulle andersins nie sou kry nie."
Die film word geregisseer deur Deidre Jantjies en Ricardo Arendse het as verhaaladviseur opgetree. Uitgesmyt is reeds in die na-produksiefase en 'n amptelike vrystellingsdatum word binnekort bekend gemaak.
Met die ondersteuning van die National Film & Video Foundation (NFVF) hoop Dumu Entertainment dat hierdie projek nie net 'n belangrike plaaslike storie sal vertel nie, maar ook sal dien as 'n belegging in die toekoms van die Karoo se jongmense.
"By Dumu Entertainment glo ons dat stories die mag het om te genees," sê Murphy. "Uitgesmyt is meer as net 'n dokumentêr - dit is 'n pad na heling en 'n uitnodiging aan ons gemeenskap om hul eie stem terug te neem."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’