VERMAAKNUUS - Skrywers van die Klein-Karoo en die Tuinroete het geleentheid om idees vir 'n verhoogteks vir die KKNK in te skryf.
Werksessies oor die skryf van verhoogteks word reeds op Saterdag 19 en Sondag 20 April in Oudtshoorn aangebied.
Die KKNK se vlagskip-projek, Teksmark, word ondersteun deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum in Kaapstad.
Dramaturge, akteurs, feesdirekteurs en ander spelers in die bedryf kom jaarliks byeen om nuwe idees vir toneelstukke te verken en te sien hoe dit ontwikkel word tot volledige produksies.
Met die KKNK se wortels in Oudtshoorn is dit gepas dat Teksmark ook Klein-Karoo toe kom en daarom vind die eerste Teksmark Oudtshoorn op Saterdag 29 Mei plaas en alle inwoners van Oudtshoorn, die Tuinroete en omstreke word genooi om hul verhoogteks-idees in te skryf.
Sedert Teksmark se ontstaan in 2016 is verskeie verhoogteks-idees ontwikkel tot veelbekroonde teaterproduksies, waaronder Marina Albertyn se Melk en vleis; Bauke Snyman se Swerfgoed; Amee Lekas se Die dans van die Watermeid, Du Toit Albertze se Die Meermin-kompleks en Herschelle Benjamin se In Slawenhuis 39.
Teksmark Oudtshoorn vind in twee fases plaas en alle gevestigde of ontluikende skrywers van Oudtshoorn, die Tuinroete en omstreke mag deelneem. Deelnemers moet 16 jaar of ouer wees.
Fase 1: Teksskryf-werksessie
Die werkwinkel word op Saterdag 17 April (08:00 - 16:00) en Sondag 18 April (08:00 - 15:00) deur Neil Coppen en Ilse Oppelt in Oudtshoorn by die Toekomsrussaal aangebied.
In die loop van die interaktiewe werksessie sal deelnemers gelei word deur die beginsels van hoe storie-idees geïdentifiseer en gevorm word. Hulle sal kyk na onder meer navorsing, storielyn-ontwikkeling, karakterisering, genre en dialoog. Coppen en Oppelt sal die skrywers lei om met idees vorendag te kom wat hulle met vertroue tot finale ontwikkeling kan neem.
Die werkssessie is gemik op skrywers wat hulp nodig het met hul teksidees, maar is nie ’n vereiste om ’n voorstel in te dien, of die Teksmark Oudtshoorn-geleentheid in Mei by te woon nie.
Bywoning is gratis, maar dis noodsaaklik om te bespreek aangesien ruimte weens Covid-19-voorskrifte beperk is. Bespreek nou deur Shandré Harris te bel by 044 203 8600, of stuur ’n e-pos na teksmark@kunste.org.za of stuur ’n boodskap via WhatsApp/Telegram na 060 848 8131.
Fase 2: Dien jou voorstel in
In dié fase van Teksmark Oudtshoorn kan enige dramaturg – gevestig of ontluikend – ’n voorstel indien wat vir verdere ontwikkeling tot ’n volledige produksie oorweeg kan word.
’n Paneel kundiges sal die voorstelle evalueer van die skrywers wie se idees en skryfvaardighede die meeste belofte toon. Die gekose voorstelle sal op 29 Mei as teksvoorlesings (van hoogstens 10 minute en as monoloog of dialoog) aangebied word by Teksmark Oudtshoorn.
Dié geleentheid sal deur die organiseerders van die KKNK gebruik word om talent te identifiseer vir toekomstige deelname aan die jaarlikse fees. Voorstelle moet voor Woensdag 5 Mei om 16:00 ge-e-pos word aan teksmark@kunste.org.za.
Let wel:
Tekste en voorstelle in al Suid-Afrika se amptelike tale sal oorweeg word. Veeltalige produksies word verwelkom.
Net tekste wat nog nooit tevore professioneel opgevoer is nie, sal oorweeg word.
Geen handgeskrewe voorstelle sal oorweeg word nie, net dokumente in Microsoft Word.
Bel die KKNK-kantoor by 044 203 8600, of stuur ’n e-pos na teksmark@kunste.org.za indien jy hulp nodig het met jou voorlegging (dit sluit hulp met tikwerk in).
Die volgende inligting moet deel wees van jou voorstel:
- Titel van die teks
- Skrywer se naam en ouderdom
- Skrywer se kontakbesonderhede (selfoonnommer, e-posadres en straatadres)
- 'n Opsomming van die teksidee en -temas, kort beskrywing van die karakters en minstens vyf bladsye met dialoog. Volledige tekste is welkom, maar dis nie ’n vereiste nie.
Ontvangs van voorstelle sal per e-pos erken word. As jy nie binne drie dae so ’n e-pos ontvang het nie, bel die KKNK-kantoor by 044 203 8600, of stuur ’n e-pos aan teksmark@kunste.org.za om seker te maak jou inskrywing is ontvang
Teksmark Oudtshoorn is ’n KKNK/Kunste Onbeperk NPC-projek vir die Klein-Karoo-kunste-akademie.
Cintaine Schutte en Lee-Ann van Rooi in die verhoogstuk, 'Askaria'.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'