Feeskoördineerder Judy Ritchie was hierdie week in die wolke oor die sukses van die naweek se fees. "Ons besoekers het verdubbel teenoor laas jaar. Ek dink die goeie weer, die langnaweek, ons vol program en goeie bemarking het baie bygedra tot die sukses."
Behalwe vir die groot aantal proe-geleenthede en die feesstalletjies was die opvoerings van Valiant Swart en Zanne Stapelberg groot trekpleisters. Almal wat by die fees was en dit verlede jaar ook bygewoon het was dit eens dat hierdie jaar se fees baie lewendiger as verlede jaar s'n was. Volgens Ritchie beoog hulle om volgende jaar se fees weereens oor 'n langnaweek te laat plaasvind. "Dit is nog bietjie vroeg om dit te bevestig, ons skep nog nie eers asem na die naweek nie, maar ons gaan probeer om weer die fees oor 'n langnaweek te hou." het sy Woensdag gesê.
Tydens die mediabekendstellingsaand wat Vrydagaand gehou is het Boets Nel van Boplaas gesê dat die bydrae van die hoofborg Absa van onskatbare waarde vir die fees is en daarmee saam die groot bydrae wat die Kannalandse munisipaliteit jaarliks aan die fees bewillig.
Die Absa Calitzdorp port- en wynfees was in 1992 vir die eerste keer gereel deur die eienaars van Boplaas, De Krans en Calitzdorp wynkelders. Die fees is aanvanklik elke tweede jaar gehou, maar het so gewild geword dat dit die afgelope paar jaar 'n jaarlikse instelling geword het.
Calitzdorp se dorpsbestuurder, Reginald Timmie (links) oorhandig Kannaland se finansiële bydrae tot die fees aan Boets Nel, eienaar van Boplaas kelders en een van die drie stigterslede van die gewilde Absa Caitszdorp portfees.
'Ons bring jou die nuutse Calitzdorp | Klein-Karoo nuus'