GEORGE NUUS - ’n Vierde boek het pas uit die pen van Emsie Martin, skrywer en teksredakteur van George, verskyn.
Olie vir jou Lamp 2 is die tweede boek in haar reeks met Christelike dagstukkies en bevat ’n versameling van 180 bemoedigende boodskappe. Die boek het dieselfde naam as Martin se inspirerende Facebook-groep, Olie vir jou lamp, wat sy in 2013 begin het.
Hierdie uiters gewilde groep het gegroei en het tans meer as 43 100 lede en die blad het 26 470 volgers.
Op versoek van lede van die groep het sy besluit om die dagstukkies in boekvorm uit te gee. Met Olie vir jou lamp 2 wil Martin haar lesers bemoedig met die boodskap dat gebrokenheid uiteindelik heling kan bring.
Die skrywer deel waarhede oor leiding uit die Woord wat mense soms nie wil hoor nie, maar tog so nodig het. Dinge waarmee mense elke dag gekonfronteer word. Gebrokenheid vra nie wie jy is, waar jy vandaan kom, hoe jy grootgemaak is of hoeveel geld jy verdien nie - dit klop aan enigiemand se deur.
Gebrokenheid het baie gesigte. Jy het dalk nie ’n gebroke huwelik nie, maar ervaar moontlik siekte, kinderloosheid, dood van ’n geliefde, werkloosheid, armoede, swaarkry, eensaamheid, familietwis, haat, verwerping of selfs depressie.
“Die doel van hierdie boek is om ook ander te inspireer, te bemoedig en geestelik te versterk in geloof. Ek het daagliks die Here se leiding nodig vir elke dagstukkie om iewers daar buite ’n verskil te maak.
"Wanneer jy ’n boodskap kry wat sê, ‘dankie hiervoor, dit was presies wat ek vandag nodig gehad het’, of ‘kragtige boodskap, net wat ek vanoggend moes hoor’, word jou hart met warmte en dankbaarheid gevul, want jy weet jy maak ’n verskil,” sê Martin.
'Olie vir jou Lamp 2' is 'n voortsetting van Emsie Martin se Christelike dagstukkies.
Sluit gerus aan by die groep of die Facebook-blad, Olie vir jou Lamp.
Olie vir jou Lamp 2 is beskikbaar by die skrywer.
WhatsApp haar by 082 840 8322 of stuur ’n e-pos aan [email protected].
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’