OUDTSHOORN NUUS - Vanjaar se feeskunstenaar, nomThunzi Mashalaba, is 'n kunstenaar wat die wêreld stil-stil oopbreek en van naderby bekyk, om dit dan weer stuk-stuk en op haar eie manier aanmekaar te sit.
So, I Let Silence Explain bring nuwe werke en historiese werke byeen en word 'n persoonlike dialoog wat die grense van tyd en ruimte oorskry.
Haar interdissiplinêre kunsproses wentel rondom haar eie verhaal. Die skoonheid van die bladsy van 'n boek en die taal van 'n getekende lyn vorm die grondslag van haar werk. Sy skep visuele stories gegrond op persoonlike ervarings en onthul intieme oomblikke wat terselfdertyd universele menslike ervarings oproep.
Haar outobiografiese benadering bepaal die aard van elke werk wat sy aanpak, hetsy of sy met verf, tekstiel of ander media werk. Haar kleurpalet is sag, dog herkenbaar en die opvallende kleurgebruik is die werktuig waarmee sy haarself binne die wêreld plaas.
Al die kunsuitstallings is gratis om te besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’