OUDTSHOORN NUUS - Marlo Minnaar, gebore Oudtshoorniet, is verlede week by die KYKNET Silwerskermfees as beste akteur vir sy rol in die kortfilm getiteld, Aan/Af, vereer.
Volgens Minnaar, wat bekendheid verwerf het in TV-sepies soos 7de Laan, Suid-Ooster en Boland Moorde om slegs 'n paar te noem, is dit die eerste keer in sy 13 jaar lange loopbaan as professionele akteur dat hy 'n toekenning van hierdie status in die filmbedryf ontvang.
Hy vertel dat sy passie vir die verhoog en toneelspel destyds by Bridgton Sekondêr begin het toe hy gekies is om een van die rolle te vertolk in die skool se District Six-musiekblyspel.
"Dit was groot pret en terselfdertyd so leersaam om destyds met ouens soos meneer Gysie Strydom en Ronnie Burton te werk. As ek nou terugkyk besef ek dat die District Six-vertoning se oorweldigende sukses by die Oudtshoorn-burgersentrum die bepalende faktor was wat my finaal laat besluit het om my brood op die verhoog en in toneelspel te verdien. Daai gevoel dat jy letterlik enigiemand kan wees om van jouself vir n wyle te escape is 'n euforiese gevoel sonder sy gelyke."
Minnaar het na skool drama aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en vandaar het hy oudisies vir rolle in teater, TV en selfs radio gedoen.
"Kyk, my paadjie na sukses was glad nie maklik nie met ups and downs en dis hoekom ek gereeld vir aanhangers sê dat daar geen quick fix vir sukses is nie. Dit het my 13 jaar geneem, maar die feit bly staan dat as jy regtig wil en jou hart en siel in jou beroep sit, sal jou doelwitte realiseer. Sukses is 'n maratonwedloop en jou consistency gaan bepaal of jy die stamina gaan hê om oor 'n lang tydperk relevant te bly."
In dieselfde asem het Minnaar genoem dat hy dankbaar is vir teaters en feeste soos die KKNK wat onlangs weer volstoom op die been is wat vir akteurs soos manna uit die hemel is.
Tans vertolk Minnaar die rol van Bumper Jansen in nog 'n Oudtshoorniet, Ricardo Arendse se debuutdrama, Die Halwehuis, wat van 30 Maart tot 3 April by KKNK op die verhoog te sien sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'