PRINS ALBERT NUUS - Die dramatiese landskap van Meiringspoort is die onderwerp van die kunsuitstalling Drift wat verlede Vrydag in Prince Albert Gallery geopen het. Die kunstenaar is Brahm van Zyl van Kaapstad.
Die opening is waargeneem deur die skrywer Kerneels Breytenbach en duur tot 2 September.
Breytenbach het Van Zyl se skilderye "die werk van 'n meesterbeplanner" genoem en gesê Van Zyl behou die estetiese en ook die vorms en stapeling van die klipwerk van dié deurgangspoort tussen Klaarstroom en De Rust.
"Dis nie net 'n nuwe fase in sy werk nie; dis ook 'n weerspieëling van sy persoonlikheid," het Breytenbach gesê.
Die skrywer Lien Botha, wat ook die openingsgeleentheid bygewoon het, skryf in haar voorwoord in die uitstallingskatalogus: "Van Zyl het met dié werke sy vaardigheid as beeldhouer en filmstelbouer na die skilderkuns oorgedra. Terwyl hy oor 'n tydperk van drie dekades sy olieverftegniek bemeester het, het hy in die afgelope grendeltyd die vryheid van waterverf ontdek."
Volgens Botha het Van Zyl en sy vrou, die kunstenaar Juria le Roux, einde verlede jaar 'n houtdrukkunswerksessie deur Joshua Miles in Prins Albert bygewoon.
Dit was in dié tyd dat hulle weer deur Meiringspoort gery het en Van Zyl onthou het hoe dié dramatiese omgewing hom as kind gefassineer het.
In Drift fokus Van Zyl veral op die sestien kilometer lange Poort se 25 driwwe. In die katalogus vertel hy meer oor elkeen se naamgewing en geskiedenis.
Besoek www.princealbertgallery.co.za, of bel Brent Phillips-White by 023 5411 057.
Ontploffingsdrif
Herrie se drif
Witperdedrif
Die kunstenaar, Brahm van Zyl (agter) saam met voor, van links: Daniel Hugo, Juria le Roux en Kerneels Breytenbach. Foto's: Marlene Malan
'Ons bring jouo die nuutste Klein Karoo nuus'