OUDTSHOORN NUUS - Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Klein Karoo Klassique aanbied, se nuwe bestuurspan is slaggereed vir die komende feeste.
Die maatskappy het onlangs twee dinamiese mense in poste aangestel. Lizané Basson is aangestel as die nuwe algemene bestuurder en Jenna-Leigh Bilong as die nuwe bemarkings- en kommunikasiebestuurder. Bilong het reeds in September in die pos begin en Lizané het hierdie week agter haar lessenaar ingeskuif.
"Ons is baie opgewonde om hierdie nuwe aanstellings aan te kondig. Lizané en Jenna-Leigh is twee besonderse mense, hulle het 'n liefde vir die kunste, 'n passie vir mense en beide is gedrewe en hardwerkende individue.
Kunste Onbeperk se direksie en personeel sien uit daarna om saam met hulle die volgende paar jaar aan te pak en te bou op die suksesse en nalatenskap van hulle voorgangers," sê die artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, Hugo Theart.
Basson het uitgebreide projek-, administratiewe en finansiële bestuursvaardighede. Sy het sedert 2006 aan verskeie projekte by die ATKV gewerk en is ook in 2013 as projekbestuurder daar aangestel.
Die heel eerste ATKV-Tjokkertoneel (toneelkompetisie vir laerskole) het ook vanjaar die lig gesien met Basson as organiseerder. Sy het 'n passie vir teater en die ontwikkeling van gemeenskappe en sê die nuwe hoofstuk in Oudtshoorn is vir haar 'n groot voorreg.
"My doelwit is om met sorg en oordeel al die rolspelers se belange op die hart te dra" sê sy. Dié ma van twee is ook tans besig met haar graad in besigheidstudies.
Die Kunste Onbeperk-span is, van links: Lizané Basson, Jenna-Leigh Bilong, Colleen Swartz, Daleen Witbooi en Hugo Theart. Foto: Hannes Visser
Bilong het 15 jaar ondervinding in die mediabedryf.
Sy het haar tande by die Vallei FM-gemeenskaps-radiostasie in Worcester geslyp waarna sy ook ondermeer skakelbeampte vir die Nasionale Instituut vir Dowes was.
Haar ondervinding in die radiobedryf is by RSG voortgesit, waarna sy 'n skuif na televisie gemaak het.
Sy was vir ongeveer sewe jaar 'n nuusleser- en skrywer by eNuus op kykNET en kykNET en kie en is ook deesdae op vryskutbasis deel van die SABC Nuus-span op SABC 2.
Sy sê sy is opgewonde om deel van 'n dinamiese organisasie, soos Kunste Onbeperk te wees, wat 'n belangrike rolspeler in kuns en kultuur in Suid-Afrika is, 'n ekonomiese bydrae tot Oudtshoorn en die Wes-Kaap maak en 'n rits geleenthede vir die bedryf skep.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'