OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Klassique bring vanjaar ’n gewigtige aanbod van klassieke musiek na die Klein Karoo, met ’n program wat ’n wêreldpremière én klassieke gunstelinge insluit.
Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, literatuur, kuns, kos en wyn word van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus vir die 17de keer aangebied.
Program
7 Augustus
10:00 - Richard Cock, bekende dirigent, bied ’n spesiale program vir nuuskieriges oor die orkes, en gevierde koorleier.
14:00 - Geïnspireer deur die verganklikheid van reis, neem Féroll-Jon Davids (klarinet), Ralitza Macheva (viool), Azra Isaacs (altviool) en Rosamund Roth (tjello) die gehoor in Postcards op ’n verkenningstog oor kontinente, tydperke en musiekgenres.
19:00 - Die Klassique Galakonsert bring die bekroonde Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) onder leiding van Richard Cock en die befaamde Suid-Afrikaanse pianis François du Toit byeen.
21:00 - Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective, deel die verhoog vir ’n onvergeetlike jazzkonsert wat die ryk tapisserie van plaaslike én wêreldmusiek vier.
8 Augustus
10:00 - Trio Contraire, ’n boeiende uitvoering met Esthea Kruger (klavier), Shannon Thebus (Franse horing) en Louisa Theart (fluit), strek oor twee eeue van musikale verbeelding en bring ’n ryk verskeidenheid kamermusiekwerke deur van Europa se mees kenmerkende komponiste byeen.
14:00 - Take Four Piano Quartet neem die gehoor op ’n verhewe reis deur van die mees geliefde werke in die kamermusiekrepertorium.
19:00 - Heimwee is ’n hartlike huldeblyk aan die besonderse nalatenskap van Mimi Coertse en vier die stem, kunstigheid en kulturele invloed van een van Suid-Afrika se mees geliefde soprane. Op die verhoog is Cape Town Opera se soprane Brittany Smith en Sisikelelwe Mngenela, tenoor Thandolwethu Longo, pianis José Dias, met Charl du Plessis as gasheer en samesteller.
9 Augustus
10:00 - Unheard (of) met Mietze Dill (tjello) en Mareli Stolp (klavier), is beide ’n viering, en ’n ontdekkingsreis van werke deur komponiste wat vir etlike jare as onwillekeurige randfigure uit die musiekkanon uitgesluit is.
14:00 - Cellissimo bring agt tjelliste van KFO en ’n sopraan byeen, met Peter Martens, Eddie McLean, Rosamund Roth, Matthias Remley-Ender, Dane Coetzee, Ashlin Grobelaar, Lynne Donson, Marcus Motaung en Siphamandla Moyake (sopraan).
19:00 - Die Universiteitskoor Stellenbosch bring hul 90ste bestaansjaar-vieringe na Klassique en nooi feesgangers om ’n program van uitsonderlike koorkuns, onder leiding van dirigent André van der Merwe te beleef.
10 Augustus
10:00 - André van der Merwe bied ’n werksessie vir koorleiers uit die streek aan.
Ontbytkonserte
Ontbytkonserte word op Saterdag 8 en Sondag 9 Augustus om 08:00 gratis in die Banketsaal aangebied.
Musiekgesprekke
Musiekgesprekke word na afloop van uitgesoekte uitvoerings aangebied, onder leiding van Charl du Plessis.
7 Augustus 16:00 - Bonnie Espie gesels oor Lifting the Lid.
8 Augustus 12:00 - Antjie Krog oor haar vertaling van Olive Schreiner se From Man to Man.
9 Augustus 12:00 - Irna van Zyl oor Kanniedood.
Visuele kunsuitstalling
René Scribante het ’n visuele kunsuitstalling saamgestel onder die tema In the key of Light.
9 Augustus 13:00 - Rondleiding van dié kunswerke word in die Banketsaal aangebied.
Die Wynmeester
Danie van der Merwe, aanbieder van die gewilde VIA-reeks Die Wynmeester, kuier vir die eerste keer saam met drie talentvolle wynmakers, Andrew Mellish (Mellish Family Vineyards), Arno Smith (Wines by Arno Smith) en Riaan Marais (Alvi’s Drift), Hulle vertel meer oor die kuns van wynmaak, die uitdagings in die bedryf, asook ’n paar staaltjies op 7 Augustus 17:00, 8 Augustus 16:30 en 9 Augustus 16:30.
Feesrestaurant
Die Klassique-feesrestaurant, bedien daagliks ontbyt, middag- en aandete, lekkernye, asook wyne.
Iets vir almal
Die Oudtshoorn ReWOLusie nooi belangstellendes om saam te brei en hekel en so ’n verskil in die gemeenskap te maak. RJ Tours bied Historiese wandeltoere aan, De Rustica Olive Estate bied Olyf tot olyfolie aan, en Te Heerlike Tasting Room and Store ’n Tee-en-smaak-ervaring.
Kaartjies en kontakbesonderhede
’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om agt uitvoerings teen ’n besparing van meer as 20% te sien. Kaartjies is aanlyn beskikbaar, of by KKNK-kantoor in Oudtshoorn. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.
Webtuiste: www.klassique.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’