OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Klassique bring vanjaar ’n gewigtige aanbod van klassieke musiek na die Klein Karoo, met ’n program wat ’n wêreldpremière én klassieke gunstelinge insluit.
Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, literatuur, kuns, kos en wyn word van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus vir die 17de keer aangebied.
Sentraal tot die program in die Burgersentrum en Banketsaal, staan drie aandkonserte: die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (8 Augustus), Kaapstad Opera (7 Augustus 19:00) en die Universiteitskoor Stellenbosch (9 Augustus).
Verskeie kamermusiekuitvoerings word ook aangebied, met twee laataand optredes en twee ontbytkonserte in die Banketsaal wat die musiekprogram afrond. Die program is só saamgestel dat feesgangers nie tussen musiekoptredes hoef te kies nie, maar alles kan bywoon.
Richard Cock, bekende dirigent, bied ’n spesiale program vir nuuskieriges oor die orkes (7 Augustus 10:00) en gevierde koorleier André van der Merwe bied na afloop van die fees ’n werksessie vir koorleiers uit die streek aan (10 Augustus 08:00).
Belangstellendes kan die feeskantoor kontak vir meer inligting en moontlike bywoning van hierdie twee geleenthede.
Geïnspireer deur die verganklikheid van reis, neem Féroll-Jon Davids (klarinet), Ralitza Macheva (viool), Azra Isaacs (altviool) en Rosamund Roth (tjello) die gehoor in Postcards (7 Augustus 14:00) op ’n verkenningstog oor kontinente, tydperke en musiekgenres, wat ’n blik met klankdiepte van kamermusiek vir klarinet en stryktrio bymekaarbring.
Die Klassique Galakonsert (7 Augustus 19:00) bring die bekroonde Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) onder leiding van Richard Cock en die befaamde Suid-Afrikaanse pianis François du Toit byeen. Op die program is ’n viering van geliefde meesterwerke uit die Klassieke en Romantiese tydperke. Dit is die KFO se eerste optrede by Klassique in 13 jaar.
Anna Davel en The Melisizwe Plaatjie Collective, wenner van die KKNK se Kanna vir beste aanbieding: kontemporêre musiek vanjaar, deel die verhoog vir ’n onvergeetlike jazzkonsert wat die ryk tapisserie van plaaslike én wêreldmusiek vier (7 Augustus 21:00).
Trio Contraire (8 Augustus 10:00), ’n boeiende uitvoering met Esthea Kruger (klavier), Shannon Thebus (Franse horing) en Louisa Theart (fluit), strek oor twee eeue van musikale verbeelding en bring ’n ryk verskeidenheid kamermusiekwerke deur van Europa se mees kenmerkende komponiste byeen.
Take Four Piano Quartet (8 Augustus 14:00) neem die gehoor op ’n verhewe reis deur van die mees geliefde werke in die kamermusiekrepertorium. Zanta Hofmeyr (viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool), Susan Mouton (tjello) en Elna van der Merwe (klavier) is jarelange vriendinne en virtuose musici en kom in Augustus byeen om Vrouemaand te vier.

Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes is vir die eerste keer in 13 jaar by Klein Karoo Klassique op die verhoog.
Heimwee (8 Augustus 19:00) is ’n hartlike huldeblyk aan die besonderse nalatenskap van Mimi Coertse en vier die stem, kunstigheid en kulturele invloed van een van Suid-Afrika se mees geliefde soprane. Op die verhoog is Cape Town Opera se soprane Brittany Smith en Sisikelelwe Mngenela, tenoor Thandolwethu Longo, pianis José Dias, met Charl du Plessis as gasheer en samesteller.
Zanne Stapelberg (sopraan) en James Grace (kitaar) deel in Spanish Songs (8 Augustus 21:00) musikale samewerkings van meer as twee dekades se uitverkoopte optredes deur dié duo.
Unheard (of) [9 Augustus 10:00] met Mietze Dill (tjello) en Mareli Stolp (klavier), is beide ’n viering, en ’n ontdekkingsreis van werke deur komponiste wat vir etlike jare as onwillekeurige randfigure uit die musiekkanon uitgesluit is.
Cellissimo (9 Augustus 14:00) bring agt tjelliste van KFO en ’n sopraan byeen, met Peter Martens, Eddie McLean, Rosamund Roth, Matthias Remley-Ender, Dane Coetzee, Ashlin Grobelaar, Lynne Donson, Marcus Motaung en Siphamandla Moyake (sopraan). Hierdie uitvoering sluit die wêreldpremière van ’n werk deur Shane Woodborne in.
Die Universiteitskoor Stellenbosch bring hul 90ste bestaansjaar-vieringe na Klassique (9 Augustus 19:00) en nooi feesgangers om ’n program van uitsonderlike koorkuns, onder leiding van dirigent André van der Merwe te beleef. Dit is hulle eerste optrede by die fees.
’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om agt uitvoerings teen ’n besparing van meer as 20% te sien. Kaartjies is aanlyn beskikbaar, of by KKNK-kantoor op Oudtshoorn. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.
Ontbytkonserte word op Saterdag 8 en Sondag 9 Augustus om 08:00 gratis in die Banketsaal aangebied, waar klaviermusiek en ’n heerlike ontbytspyskaart byeenkom. Feesgangers kan uitsien na optredes deur Oudtshoorn-pianis John Theodore (8 Augustus) en Charl du Plessis (9 Augustus).
Musiekgesprekke word na afloop van uitgesoekte uitvoerings aangebied, onder leiding van gasheer Charl du Plessis. Drie Boekgesprekke word aangebied, moontlik gemaak deur NB Uitgewers. Bonnie Espie gesels oor Lifting the Lid (7 Augustus 16:00), Antjie Krog oor haar vertaling van Olive Schreiner se From Man to Man (8 Augustus 12:00) en Irna van Zyl oor Kanniedood (9 Augustus 12:00).
René Scribante het ’n visuele kunsuitstalling saamgestel onder die tema In the key of Light, met kunswerke van beide gevestigde en opkomende kunstenaars uit die Klein Karoo en die Suid-Kaap. ’n Rondleiding van dié kunswerke word op 9 Augustus 13:00 in die Banketsaal aangebied.
Danie van der Merwe, aanbieder van die gewilde VIA-reeks Die Wynmeester, kuier vir die eerste keer saam met drie talentvolle wynmakers by Klein Karoo Klassique. Andrew Mellish (Mellish Family Vineyards), Arno Smith (Wines by Arno Smith) en Riaan Marais (Alvi’s Drift) vertel meer oor die kuns van wynmaak, die uitdagings in die bedryf en deel ’n paar staaltjies.
Proe saam terwyl die wynmakers hul wyne saam met ’n heerlike bypassende happie aanbied (7 Augustus 17:00, 8 Augustus 16:30 en 9 Augustus 16:30).
Die Klassique-feesrestaurant, bedryf deur Oudtshoorn se Nostalgie Restaurant, bedien daagliks ontbyt, middag- en aandete, met ander lekkernye wat tussendeur beskikbaar is. Heerlike wyne word ook hier bedien.
Die Oudtshoorn ReWOLusie nooi belangstellendes om saam te brei en hekel en so ’n verskil in die gemeenskap te maak. RJ Tours bied Historiese wandeltoere aan, De Rustica Olive Estate bied geleenthede aan feesgangers om hulle bekroonde olyfolie te proe met Olyf tot olyfolie en Te Heerlike Tasting Room and Store bied ’n Tee-en-smaak-ervaring aan.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude, RSG, Oudtshoorn Courant en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dié winterfees se verblyfborge is Argyll B&B, Beit Shalom, Cul de Sac, De Zeekoe, Kleinplaas Holiday Resort, Oudtshoorn Inn, Pictures Boutique Hotel, Protea Hotel Riempie Estate, Ravenscliff Manor en Rosenhof Country House.
Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by [email protected], skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Die Universiteitskoor Stellenbosch tree vir die eerste keer by Klein Karoo Klassique op.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’