OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorniete sal tydens vanjaar se KKNK slegs R200 toegangsfooi vir 'n Kuierbuurt-weekkaartjie hoef te betaal.
Hierdie spesiale promosie wat R130 minder is as die normale tarief, sal toegang tot die Kuierbuurt elke dag vanaf 24 tot 29 Maart verseker.
Dié promosie sluit verder ook Speelbos vir die jongspan, Musiek by die Castle Lager-verhoog, markte en stalletjies vir rondsnuffel en liplekker wynproe en lekkernye in.
Feesgangers in besit van dié promosie-weekkaartjie sal ook toegang tot al ses groot opelugkonserte op die Huisgenoot-verhoog kry waar kunstenaars soos Jo Black, Demi-Lee Moore, Francois van Coke, Tarryn Lamb, Early B en die Ndlovu-jeugkoor sal optree.
Slegs 'n beperkte hoeveelheid promosiekaartjies is beskikbaar en kan vanaf 27 tot 31 Januarie by Kunste Onbeperk se kantoor gekoop word. Inwoners wat van die kaartjies wil bekom moet 'n bewys van identiteit sowel as bewys van woonadres (byvoorbeeld 'n munisipale rekening) toon.
Die musiek- teaterproduksies begin reeds op Maandag 24 Maart.