Dié boodskap volg na ’n insident hierdie week waar ’n groep jeugdiges ’n toergids aangeval en toeriste geteister het.
Volgens haar is sekuriteitsbeamptes in uniform en maklik om te identifiseer. “Indien daar enige voorvalle is, kan hulp maklik en vinnig ontbied word en die GOS stel beamptes in staat om hulp in te roep indien daar ’n nood-situasie is. Die brandweer, ambulans- en mediese dienste en verkeer is ook deel van die GOS, wat 24 uur per dag beman word.”
Volgens Rudi du Toit, operasionele bestuurder van Metro City Protection Services, is hulle daartoe verbind om ’n veilige KKNK 2017 te verseker. “Ons is bewus van die uitdagings rondom die huidige situasie in Oudtshoorn en juis vir die doel – en om ander onaangename verrassings te vermy – is ’n omslagtige risiko-analise gedoen. Ons is deeglik voorberei om die beste diens aan die fees te lewer,” sê hy.
Du Toit sê dat hulle bykomend tot die wagte wat ontplooi word, ook verskeie gespesialiseerde wetstoepassers by hulle taakmag insluit. “Hierdie groep is volledig toegerus om enige situasie te hanteer en hulle opdrag is baie eenvoudig: hou die fees veilig. Metro City Protection Service sien uit na ’n veilige en suksesvolle KKNK.”
Snyman benadruk egter dat feesgangers paraat moet wees en nie waardevolle items op plekke moet los wat maklike teikens is nie. “Ons doen ook ’n beroep op feesgangers om nie geld aan persone op straat te gee nie. Deur geld aan die kinders te gee, word hulle in hul kwaad gesterk – sonder om die probleem aan te spreek of op te los. Ons vra dat feesgangers eerder as om geld te gee, die Oudtshoorn Broodprojek ondersteun”, sê sy.