OUDTSHOORN NUUS - Meer as 60 kaartjies is verkoop vir die viering van CJ Langenhoven se verjaarsdag wat Woensdagaand, 27 Augustus, by die Neelsie-teater plaasgevind het.
Die geleentheid, 'n inisiatief van die Arbeidsgenot-komitee, vorm deel van hul strewe om die Neelsie meer gereeld as kultuurlokaal te gebruik en dit vir die breër gemeenskap toeganklik te maak.
Langenhoven Gimnasium was die enigste hoërskool wat deelgeneem het aan die aand, wat gekenmerk is deur hoë gehalte optredes en 'n warm gemeenskapsgees. Die skoolkoor se optrede is deur talle gaste as een van die hoogtepunte beskryf.
Daarbenewens het drie leerders van Langenhoven Gimnasium, Jean Joubert, Ilze Stegman en Bella-Mari Strydom, saam met die skrywer Jan van Tonder en verhoogkunstenaar Theo Witbooi opgetree. Hulle het met voorlesings en vertellings oor Langenhoven se lewe en werk bygedra tot die besonderse atmosfeer van die aand.
Die Arbeidsgenot-komitee beplan reeds die volgende kultuuraand in die Neelsie, 'n spesiale skrywersdag vir Oudtshoorn se plaaslike skrywers, wat aan die einde van September sal plaasvind.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’