OUDTSHOORN NUUS - Na die sukses van die eerste restaurant teaterervaring by verlede jaar se Klein Karoo Klassique, keer dié aanbod vanjaar terug.
Die immer gewilde Klein Karoo Klassique begin Donderdag 9 Augustus en duur tot Sondag 12 Augustus.
Klein Karoo Klassique vier vanjaar 'n dekade van klassieke musiek, kuns, kos en wyn in die Klein-Karoo. Die musiekprogram word daagliks by Die Windpomp Restaurant met intieme musiekoptredes in verskeie musiekstyle afgesluit.
Musiek by Die Windpomp
Die program by Die Windpomp word op 9 Augustus deur die viool-duo van Ellani de Jager en Donné de Kock, oftewel The Grey, geopen.
Vrydagaand om 21:00 keer Brathew van Schalkwyk (klavier), Jesse Julies (saxofoon en sang) en Naledi Masilo (sang) terug na Klassique met Another Evening of Jazz.
Die Burger beskryf hulle suksesvolle optrede verlede jaar soos volg: "Julies, Masilo en Van Schalkwyk het jazz 'standards' hul unieke aanslag gegee. Masilo se gemaklike verhoogpersoonlikheid en sang het 'n warm atmosfeer geskep." Feesgangers kan uitsien na 'n splinternuwe jazz-program met 'n vermenging van tradisionele jazz en meer kontemporêre interpretasies.
José Dias (klavier) tree Saterdag 11 Augustus om 21:00 by Die Windpomp op met een van die klavier-meesterstukke, 24 Preludes Op.28 deur Frédéric Chopin. Die gehoor ervaar 'n stormagtige, romantiese en fantastiese reeks van onvergeetlike musikale sketse.
Kaartjies vir die optredes in Die Windpomp Restaurant Teater kos R90.
"Feesgangers moet hul kaartjies vroegtydig bespreek, aangesien sitplek beperk is en dit verlede jaar vreeslik vinnig uitverkoop het," sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van Klein Karoo Klassique.
Volgens Theart is kaartjies vir hierdie drie optredes slegs by Kunste Onbeperk se kantoor in Die Neelsie, Jan van Riebeeckweg 217 of telefonies by 044 203 8600 beskikbaar.
Geniet aandete na die tyd
Theart sê heerlike aandetes kan saam met dié vertonings geniet word.
"Aandete word saans vanaf 19:00 bedien. Kaartjies sluit nie aandete in nie. Die volledige spyskaart is by Kunste Onbeperk se kantoor beskikbaar, waar besprekings vir etes ook gedoen kan word."
Die Kaapstadse operakoor wat die MISA uitvoer.
Die spyskaart vir aandete wissel, maar sluit geregte soos volstruis stroganoff, tamatiebredie en wildspastei, bedien met groente en nagereg in. Ligte middagetes word ook bedien en op dié spyskaart kan feesgangers uitsien na onder meer hoenderpastei, quiche, lasagne, bobotie, varknek, vars brode, verskeie slaaie en nagereg.
Hoogtepunte op die musiekprogram
MISA is 'n nuwe mis met 'n Suid-Afrikaanse invloed. Die musiek is deur Antoni Shonken gekomponeer, Antjie Krog skryf die teks en Marthinus Basson behartig die regie.
The New Old: Die nuutheid van oudheid met twee nuwe Suid-Afrikaanse komposisies deur Clare Loveday en Arthur Feder wat spesiaal vir die trio-kombinasie van klavier (Mareli Stolp), viool (Waldo Alexander) en klarinet (Morné van Heerden) gekomponeer is.
Soirée Musicale met André Schwartz (tenoor) en Lynelle Kenned (sopraan), is 'n opvoering met van die gewildste musiek uit musiekblyspele, operettes en operas.
Night at the Opera met die Charl du Plessis Trio. Dié trio, Du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme), gee 'n eiesoortige jazz-kinkel aan operamusiek.
Die ATKV-Afsluitingskonsert is 'n spesiaal saamgestelde konsert met die besonderse sopraanstemme van Cecilia Rangwanasha en Hlengiwe Mkhwanazi. Hulle word deur Sulayman Human begelei.
Ander hoogtepunte
'n Liplekker-ervaring word daagliks van 11:00 tot 19:00 aangebied. Heerlike Karoo- en ander lekkernye kan geproe word, waaronder wyn van Boplaas, De Krans, Calitzdorp Cellars en 'n wye verskeidenheid wyne van die oudste wynstokke in Suid-Afrika van Old Vines.
Volstruisprodukte van Ostriland Meat, O for Olive se olywe, Guy Guersney Dairy se kase, handgemaakte sjokolade van La Chocolaterie Rococo en koffie en ander drinkgoed van Beans about Coffee is ook deel van die spyskaart.
Classics 4U se gewilde CD- en DVD-winkel keer terug, met hope musiekwinskope.
Verskeie kunsuitstallings deur plaaslike en besoekende kunstenaars is tydens Klassique op en om Oudtshoorn te sien.
Pakkette
Volgens Theart is daar nog van die winskoop Klassique Pakkette beskikbaar. "Met hierdie pakket kan feesgangers teen slegs R900 al tien uitvoerings in die NG Moederkerk geniet en sodoende R400 spaar. Weens die groot aanvraag na dié pakkette, het ons addisionele pakkette by Computicket beskikbaar gestel, waarvan daar nou slegs enkeles oor is," sluit hy af.
Vir meer inligting, besoek www.klassique.co.za, volg Klein Karoo Klassique op sosiale media of kontak Kunste Onbeperk by 044 203 8600.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'