OUDTSHOORN NEWS - Die Klein Karoo Klassique - 'n fees van klassieke musiek, literatuur, kuns, kos en wyn - is een van Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur, se gunsteling-geleenthede van die jaar.
“Die intimiteit van die fees en die warmte daarvan om tyd saam met jarelange feesgangers te spandeer én nuwe gehore te ontmoet, is ’n lekkerte.
"Voeg daarby die wonderlike musici, sangers en ander deelnemers wat met soveel passie hul vakmanskap en liefde vir klassieke musiek met gehore deel, en jy het die perfekte winterfees.”
Die driedag-fees wat Vrydag 7 Augustus afskop word vanjaar vir die 17de keer in die Klein Karoo aangebied.
Klik hier vir die volledige program.
Die feesprogram sluit vele hoogtepunte in, waaronder die terugkeer na Oudtshoorn van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) in die Klassique Galakonsert (Vrydag 7 Augustus 19:00) en ’n huldigingskonsert aan Mimi Coertse met soliste van Kaapstad in Opera in Heimwee (Saterdag 8 Augustus 19:00).
Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van KKK Foto: KKK
Dan is daar ’n eerste optrede by die fees deur die Universiteitskoor Stellenbosch (Sondag 9 Augustus 19:00), ’n wêreldpremière van ’n werk deur Shane Woodborne in Cellissimo (Sondag 9 Augustus 14:00) en Antjie Krog vir die eerste keer in gesprek oor haar vertaling van Olive Schreiner se From Man to Man (Saterdag 8 Augustus 12:00).
Jy kan ook gratis ontbytkonserte deur Oudtshoorn-pianis John Theodore (8 Augustus 08:00) en Steinway-kunstenaar Charl du Plessis (9 Augustus 08:00) bywoon.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, sê Klein Karoo Klassique bied die ideale platform vir die ATKV om sy missie - om proaktief en op ’n volhoubare wyse om te sien na die diverse kunsbehoeftes van die Suid-Afrikaanse gemeenskap - uit te leef.
“Klein Karoo Klassique gaan oor veel meer as klassieke musiek en bied aan feesgangers ’n unieke bymekaarkomplek in die Klein Karoo, met ’n onvergeetlike kultuurervaring wat ook visuele kuns, letterkunde en kos- en wynervarings insluit.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV Foto: Facebook
“Die ATKV sien veral uit na die gewigtige klassieke musiekaanbod - ’n program wat ’n wêreldpremière én klassieke gunstelinge insluit.
"Hierdie uiteenlopende program bied iets vir elke belangstellende - van asemrowende musiekuitvoerings tot inspirerende musiek- en boekgesprekke, asook praktiese werksessies. Só ook word die fees die ideale platform vir opleiding en ontwikkeling,” sê Lemmer.
Opleiding en ontwikkeling
Geleenthede vir opleiding en ontwikkeling by die fees, sluit in Inleiding tot die orkes (Vrydag 7 Augustus 10:00) waar leerders uit die Klein Karoo die geleentheid kry om onder leiding van Richard Cock en lede van die KFO, meer oor die orkes en orkesmusiek te leer.
Tydens hierdie interaktiewe sessie word leerders op ’n musikale reis deur die orkes se verskillende groepe geneem, waar elke instrumentfamilie se eie karakter en stem wat dit tot die geheel bydra, ontdek word. Dié sessie word ondersteun deur die ATKV en Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD).
Anina Lundie, senior kurrikulumbeplanner: skeppende kunste by die WKOD, sê feeste soos Klein Karoo Klassique gee lewe aan die skoolkurrikulum in ’n werklike, professionele omgewing.
“Dit verbind leerders in praktyk tot kunstenaars, kunste-administrateurs, tegnici en feesorganiseerders wat aan hulle wys dit is lewensvatbaar en opwindend om ’n loopbaan in die kunste te hê. Deur ons Growth for Jobs-program neem ons hierdie verbintenis ’n tree verder, wat uiteindelik die leerders se ervaring by die fees met loopbaanontwikkeling en ekonomiese deelname verbind.
Anina Lundie, senior kurrikulumbeplanner: skeppende kunste by die WKOD Foto: Linkedin
“Inleiding tot die orkes maak wat leerders in die klaskamers leer ’n werklikheid. Dit is baie leerders se eerste keer wat hulle ’n orkes in lewende lywe sien. Daardie oomblik wanneer hulle iets herken wat hulle in die klaskamer geleer het, is uiters kragtig,” sê Lundie.
’n Spesiale werksessie vir koorleiers uit die Klein Karoo en Tuinroete, word Maandag (10 Augustus 08:30) deur die bekroonde André van der Merwe, koorleier van die Universiteitskoor Stellenbosch aangebied.
Dit is ’n unieke aanbieding, ondersteun deur die ATKV, wat ’n geleentheid aan koorleiers van gemeenskapskore, skoolkore en kleiner ensembles bied om nuwe idees, praktiese vaardighede en vars inspirasie te ontdek, ondersteuning aan koorleiers te bied en hul verder toe te rus.
Verskeie ander kamermusiek uitvoerings, twee laataandkonserte, musiek- en boekgesprekke word ook tydens die fees aangebied.
Feesgangers kry ’n geleentheid om die uniekheid en smake van die Klein Karoo te ervaar tydens ’n historiese wandeltoer (8 en 9 Augustus), ’n olyfolie toer en proe (daagliks) en ’n tee-en-smaak-ervaring (daagliks).
Die Wynmeester kuier vir die eerste keer by Klassique en bied wynproeë deur drie wynmakers, met ’n bypassende happie, aan.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar by klassique.co.za, by die KKNK-kantoor of by die deur voor vertonings, afhangend van beskikbaarheid.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude, RSG, Oudtshoorn Courant en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dié winterfees se verblyfborge is Argyll B&B, Beit Shalom, Cul de Sac, De Zeekoe, El Dorado Hotel & Self Catering, Kleinplaas Holiday Resort, Miles B&B Guesthouse, Oudtshoorn Inn, Pictures Boutique Hotel, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Thylitshia Villa.
Vir meer inligting, die volledige feesprogram en kaartjies, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by [email protected], skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Vanjaar is talle eerstes te sien by Klassique. Foto: Hans van der Veen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’