OUDTSHOORN NUUS - Verskeie komposisies se premières is vanjaar by die Klein Karoo Klassique. Hieronder tel MISA, 'n nuwe mis met 'n Suid-Afrikaanse invloed. Dié projek word vir uitvoerings by verskeie feeste en teaters in 2019 ontwikkel onder die kreatiewe leiding van Marthinus Basson, met Antjie Krog wat die teks skryf en Antoni Schonken wat die musiek komponeer.
Lede van die Kaapse Operakoor, Thando Mjandana, Ané Pretorius en Cecilia Rangwanasha sluit by Krog en Basson aan. MISA vind op Donderdag 9 Augustus om 18:00 plaas.
In The New Old - Die nuutheid van oudheid, bring Mareli Stolp (klavier), Waldo Alexander (viool) en Morné van Heerden (klarinet) twee nuwe Suid-Afrikaanse werke vir die eerste keer na die verhoog. Arthur Feder se Rhapsody is gekomponeer as opdragwerk vir SAMRO en Clare Loveday se Clarinet Trio 1 is moontlik gemaak deur die Africa Open Institute for Research and Innovation.
Thando Mjandana.
Ook op die program is Igor Stravinsky se gewilde L'Histoire du Soldat. Hierdie uitvoering word op Vrydag 10 Augustus om 14:30 aangebied.
Wees deel van dié uitsonderlike geleentheid en kom maak musikale geskiedenis saam met ons, in die Klein-Karoo.
Beskikbare kaartjies is voor elke vertoning by die deure beskikbaar.
Alle uitvoerings word in die NG Moederkerk aangebied en Die Windpomp Restaurant-teater. Liplekker is in die CJV-kompleks geleë.
Cecilia Rangwanasha.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'