OUDTSHOORN NUUS - Die Suid-Afrikaanse ikoon en vader van Afrikaans, CJ Langenhoven, is komende Saterdag 150 jaar gelede op 12 Augustus 1873 naby Ladismith in die Klein Karoo gebore. Sy ma is by geboorte oorlede enLangenhoven het by ’n oom en tannie grootgeword.
Langenhoven het regte aan Victoria College, later Universaliteit Stellenbosch, gestudeer en na sy studies in die Kaap as advokaat gewerk.
Later trek hy na Oudtshoorn waar hy werk as prokureur.
Langenhoven is op 23 Februarie 1897 getroud met Lenie van Velden. Hy verwys na haar as “Vroutjie” in sy skryfwerk. Hulle het ’n dogter, Engela, gehad wat ook gereeld in sy verhale opduik.
Vroutjie het die bekende huis in Oudtshoorn, wat hulle Arbeidsgenot gedoop het, gekoop. Sy het ná Langenhoven se dood die huis “aan die volk” bemaak. Arbeidsgenot is tans ’n museum wat oop is vir die publiek en onderhou word deur die Langenhoven Gedenkfonds, met die steun van die KKNK.
Langenhoven het hard gewerk om Afrikaans, nie Nederlands nie, as amptelike taal naas Engels in Suid-Afrika te vestig; iets wat in 1925 gebeur het. Vir laasgenoemde kan ons hom baie dankbaar wees.
Hy het ontsettend baie geskryf. In 1923 is Loeloeraai gepubliseer, die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans. Hy het ook die eerste speurroman in Afrikaans geskryf, Donker spoor. Maar daar is veel meer. Uit sy pen het 61 werke verskyn, en sy Versamelde Werke bestaan uit sestien boekdele. Hy het toneelstukke geskryf, debatswenke, kinderverhale, lewenspreuke, debatshandleidings en taalgidse - Langenhoven se uitset was enorm. As joernalis en rubriekskrywer in Die Burger was hy geliefd.
Ook het hy heelwat gedigte geskryf waarvan die bekendste ongetwyfeld “Die stem van Suid-Afrika” is.
Cornelis Jacob Langenhoven is na ‘n vol lewe as ‘n onderwyser, regsgeleerde, taalaktivis, koerantredakteur, skrywer, digter, dramaturg en politikus op 15 Julie 1932 oorlede.
Komende Sondag, 13 Augustus word Langenhoven se 150ste verjaarsdag deur die FAK se Kaapkantoor herdenk met ’n kranslegging op sy graf by Arbeidsgenot.
Die publiek kan aan Juanine@kultuurtuiste.org.za skryf as hulle sou belangstel om deel te neem. ’n Toegangsfooi, wat koffie insluit, van R30 vir volwassenes en R20 vir leerders word gehef.
- Verrigtinge begin Sondag om 14:00 by Arbeidsgenot.
- Die kranslegging word behartig deur die FAK en hulle bestuur die program.
- Die Langenhoven Gedenkfonds ondersteun die geleentheid en is dankbaar vir die KKNK se hulp.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’