“Dit is vir ons ’n eer om teaterlegendes soos John Kani en Mannie Manim met die produksie by die fees te verwelkom. Daar is ook verskeie geleenthede vir feesgangers om hulle, tydens gesprekke wat gratis aangebied word, te ontmoet,” vertel Theart.
John Kani se seun Atandwa Kani, vertolk saam met Mncedisi Shabangu die rolle in hierdie reis van ontdekking en lewer kommentaar oor die skeidings tussen rasse wat nog altyd in Suid-Afrika teenwoordig was, met tong-in-die-kies aanmerkings en situasies. Dit verken vryheid en identiteit deur ’n eg Suid-Afrikaanse geur aan die ontdekkingsreis te gee en beweeg gereeld tussen erns en humor.
Atandwa Kani maak dié rol, wat sy pa John Kani vier dekades gelede beklee het, sy eie met ’n nuwe relevante gees. Shabangu se uitstekende vertolkings bring die humor in die stuk sterk na vore.
Volgens John Kani het Sizwe Banzi is Dead ’n geartikuleerde standpunt van swart mense se verset teen onbillike wetgewing geword. “Dit is oor die universele stryd vir identiteit, waardigheid van menswees en respek vir menslikheid.”
“Ek, Winston en Athol was soos dr. Frankenstein wat ’n monster geskep het wat ons lewens vir meer as vier dekades vasgehou het. Ek was verheug toe die Syracuse- en Princeton Teaters in Amerika my gevra het om die produksie te laat herleef. Dit het aan my die geleentheid gebied om met jonger Suid-Afrikaanse akteurs te werk wat nog nie gebore was toe die drama vir die eerste keer op die planke was nie,” sê John Kani. Voor die seisoen in Amerika, het die nuwe produksie eers by die Markteater in Johannesburg gespeel.
Daar is slegs drie vertonings van Sizwe Banzi is Dead by die KKNK te sien, van 24 tot 26 Maart om 14:00. Verder gesels Theart op 25 Maart om 15:45 met Mannie Manim, John Kani en die akteurs oor die produksie na afloop van die vertoning en Hannes van Wyk gesels op 24 Maart om 08:30 met John Kani en Sandra Prinsloo. Hierdie twee Suid-Afrikaanse teater-ikone gesels oor hul loopbane en die gesprek dien ook as terugblik op die 1985-vertoning van Miss Julie deur August Strindberg, waar ’n soen tussen dié twee akteurs daartoe gelei het dat die gehoor uit die teater gestap het.
Belangrike feite oor Sizwe Banzi is Dead: