Hugo het onderhoude gevoer met agt Prins Alberters wat die afgelope jaar hul merk in die dorp gemaak het. Die “radio-gaste” was Christelle Smit en Hanli Burger, wat die afdeling poësie en prosa gewen het die Prince Albert Leesfees se kompetisie vir skeppende skryfwerk; Nell Kruger, wat vertel het oor die sukses van die onlangse Leesfees; Ailsa Tudhope, wat vertel het oor haar storievertelprojek op die dorp; Samie Luttig, wat gepraat het oor die sukses en uitdagings van landbou in die omgewing; Ohlson, wat oor die ATKV-werksaamhede hier gesels het; Sarah van Rooi, afrigter van die Prins Albert Vastrappers; en Diederik le Grange, boer en wynmaker van die plaas Fernskloof in die Prins Albert-vallei, wat verduidelik het waarna jy moet oplet wanneer jy wyn proe.
