OUDTSHOORN NUUS - Annie en Helen, 'n teaterproduksie gebaseer op The Miracle Worker, deur William Gibson, The Story of my Life, deur Helen Keller en Beyond the Miracle Worker, deur Kim E. Nielsen debuteer vanjaar by die 2025 Klein Karoo Nasionale Kunstefees.
Annie en Helen merk ook die terugkeer na die feeskringloop van Wordsmith's Theatre Factory, een van die land se oudste onafhanklike Afrikaanse teatermaatskappye, wat laas in 2017 by die KKNK was met 'n toneelproduksie.
Pedro Kruger, bekende akteur en vervaardiger die teatermaatskappy, sê hy en Hennie van Greunen, ewe bekende skrywer, vertaler en regisseur sien uit daarna om voort te bou op legendariese produksies soos Lyf, Op die vrou af, Dinsdae by Morrie, Rondomskrik en Shirley Valentyn.
Van Greunen het ook Annie en Helen se teks en regie behartig.
Volgens Kruger sal daar 50% afslag op kaartjies vir inwoners van Oudtshoorn by die eerste vertoning van Annie en Helen by die fees wees. Kaartjies kan gekoop word by webtickets.co.za
Die produksie speel van 1 tot 6 April
Annie en Helen
Die storie van Helen Keller is deel van ons kollektiewe geheue: die blinde doofstom dogter van 'n gesiene familie, wat paaie kruis met die jong onderwyseres, Annie Sullivan - 'n ontmoeting wat beide lewens onherroeplik verander en wat oorsprong gee aan 'n lewenslange vriendskap, en die eerste werklike kampvegter vir die regte van gestremdes.
Annie en Helen delf dieper in Annie se traumatiese lewe as jong dogter: van haar dae in die Tewksbury Armhuis, wat sy as volwassene gesê het sy sluit toe in 'n kluis in haar kop, tot by haar verhouding met haar boetie, wat die res van haar lewe haar sou by bly, en hoe dit haar gevorm het vir haar stryd om vir Helen Keller een ding te leer: taal, die verhouding tussen woorde en dinge, waarsonder Helen net 'n gevangene was; 'n dwaalgees in haar eie stil, donker kop.
Die karakters
Die produksie fokus ook meer op die onmiddellike gesin en op die effek wat Helen se gestremdheid op elke lid van die gesin het: Kate, haar ma, gespeel deur die fenomenale aktrise/skrywer Bianca Flanders, moet haar lewe herkalibreer met haar dogter se nuwe realiteit en, in 'n era waar vroueregte skaars bestaan, moet sy baklei vir die regte van haar dogter.
Kaptein Arthur Keller, gespeel deur die veelbekroonde akteur Stian Bam, is 'n veteraan van die Amerikaanse Burgeroorlog, maar sy verhouding met sy gesin kantel wanneer hy voor die vraagstuk van sy dogter te staan kom. James, Helen se broer, gespeel deur die skitterende jong akteur Eldon van der Merwe, moet tevrede wees dat hy nou 'die blinde dogter se broer is', en nie 'n jong, ambisieuse man met sy eie drome nie.
Cintaine Schutte het al oor en oor bewys dat sy een van die mees formidabele akteurs van haar generasie is. Of sy 'n 1950's huisvrou speel, of 'n vlymskerp prokureur, of 'n vrou wat worstel met infertiliteit, haar karakters is deur die bank eerlik, roerend, en ongelooflik geanker. Wanneer sy in Annie se lyf klim, sien gehore 'n fisiese, vasberade vrou wie se verlede haar die perfekte slim, onwrikbare teenpool maak vir die woedende Helen, wie se woordlose frustrasies soos 'n vulkaan binne in haar smeul.
Helen word gespeel deur Judi Hattingh, 'n 13-jarige gr. 7-leerder van Curro Durbanville Laerskool. Sy is elke jaar óf landswye wenner, of naaswenner van die #Straight2Camera Monoloogfees; sy het reeds talle Kryptonite sertifikate verwerf (95% en hoër) in die Curro Arts Superhero platform, uitgeblink in die National Youth Theatre Festival, het gespeel in die Kaapse Kryptonite Concert, en is in 2024 gekies vir Curro Create se premier program: die Advanced Mentorship Programme. Hier het Van Greunen haar gevra om die karakter van Helen, wat geen taal het nie, en dus heeltyd op die afgrond beweeg tussen woede en wanhoop, te vertolk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’