RUBRIEK - Onthou jy vir Hannah Cornelius?
Die pragtige fyn blondekopstudent van Stellenbosch wat in 2017 ontvoer is, deur ’n bende verkrag is en wreed vermoor is.
Haar marteling het vir ure aangehou en die boosaards het onder meer eers met haar in die omgewing rondgery.
Sy is met ’n mes in die nek gesteek.
Maar die finale oorsaak van haar dood was ’n rots van bykans 40 kg wat twee keer op haar kop laat val is.
Hanna was maar net 21 jaar oud, vier jaar ouer as my oudste dogter.
Ek onthou toe ek 21 was. Jou lewe lê voor jou. Jy dink nie aan goed soos ontvoering of bendes wat jou sal aanhou, verkrag, aanrand en vermoor nie.
Maar jy is ook nie veronderstel om aan sulke goed te dink wanneer jy 21 is nie.
Ek dink gereeld aan wat aan Hannah gedoen is. Haar storie het my destyds vreeslik ontstel. Ek meen, dit is al nege jaar later en ek dink nog steeds daaraan.
Ek verstaan myself nie altyd nie - hoekom Hannah se storie spesifiek só aan my gevat het nie.
Dit is seker maar omdat Hannah so fyn gebou was en omdat haar oë so sag gelyk het. So broos, soos ’n veer in die wind wat tussen doringbome deur waai.
Hannah Cornelius. Foto: FacebookVerkeerde tyd, verkeerde plek?
Ek was ook ’n Hannah.
Al die 21-jarige vroue in Suid-Afrika is.
Sy was net ’n gewone student wat in die vroeë oggendure saam met haar studentemaat in haar kar in ’n straat in Stellenbosch gesit en gesels het.
Ek het dit ook op 21 gedoen.
Hoekom gebeur sulke goed met party mense en met ander nie?
My dogter wil ook in Stellenbosch gaan studeer. Sy gaan dalk ook in die vroeë oggendure saam met ’n studentemaat in ’n kar sit.
Ek weet nie hoe ek daaroor moet voel nie. Ek wil haar nie met vrees die lewe in stuur nie, maar die realiteit van die land waarin ons leef is dat daar om elke hoek en draai met jou iets kán gebeur, maak nie saak waar jy woon nie.
Of emigreer maar, dan gebeur daar iets met jou, want wrede mense is oral.
As studente het ons gereeld ná ’n aand se gekuier in Hatfield verder by Klapperkop in Pretoria gekuier. Daar het ons in die donker in die veld gaan sit om na die uitsig oor Groenkloof te kyk.
Ons het partykeer nie eens vanaf Hatfield Square ’n lift huistoe gehad nie, al het ons vir ons ouers gesê ons het.
Die plan B was altyd om ’n taxi te bel om ons te kom haal, maar omdat die geld vir ons as studente skraps was, kon ons gewoonlik net die fooi tot by Waterkloof bekostig.
Daar het ek en my vriendinne dan uitgeklim en met ons ’hakskoene en handsakke die pad af gehardloop - in die rigting van Monumentpark. Dit was gewoonlik skuins voor middernag, wat my curfew was.
Dit is so dat Monumentpark en die omgewing waarin ek daardie jare grootgeword het veiliger was as nou.
Van wat ek verneem is dit deesdae te gevaarlik vir studente om saans in Hatfield te kuier.
Maar nietemin het ons onsself aan soveel moontlikhede blootgestel toe ons Hanna se ouderdom was, en niks het met ons gebeur nie.
Ek verstaan nie hoe die lewe werk nie. Is dit bloot ’n geval van moenie op die verkeerde tyd op die verkeerde plek wees nie?
En as dit die geval is, hoe moet jy weet wanneer jy waar moet wees?
Hoe beskerm ek my kinders teen sulke wrede mense?
Is die lewe bloot ’n spel van luck? ’n Game of Thrones waar ons almal gebore word en dan onsself gelukkig moet ag indien ons bejaarde ouderdom bereik?
Moet ons anders groet?
’n Matrikulant van Krugersdorp, Rikus Keylander, het in Desember saam met sy vriende op matriekvakansie in Mosambiek vermis geraak toe hy gaan snorkel het.
Ek het Desember baie aan Rikus ook gedink, al ken ek hom nie.
Ek meen, Rikus het saam met ’n groot groep vriende in dieselfde omgewing gesnorkel, maar uit almal het hý weggeraak.
Rikus Keylander. Foto: Facebook
Vir drie weke is daar intensief na hom gesoek. Die soektog is intussen afgelas, en Rikus is net weg. Hy het soos mis voor die son verdwyn.
Terwyl Rikus nog vermis is, is sy matriekuitslae bekend gemaak. Hy het vyf onderskeidings gekry.
Hoe oorleef ’n ouer dit? As jy nie eens weet waar presies jou kind is nie. As jy nie ’n liggaam het om te begrawe nie…
Hoe gaan ’n ouer aan met die lewe as dit jou kind is wat gaan snorkel het en net weg is? Watter sin is daar verder in die lewe as jou hart soos dit uitgeruk word?
Duisende ouers groet jaarliks hul kinders wanneer hulle met matriekvakansie gaan. Een van die dae sal ek ook.
Hoe wreed is die lewe dan nie dat Rikus se familie hom gegroet het vir iets so normaal soos ’n matriekvakansie, min wetend dat dit die laaste groet sou wees?
Moet ons ons kinders anders groet? Met meer intensiteit? Met meer vrees?
Of moet ons net deur die lewe loop en vasklou aan iets soos geloof?
Want dit het nie vir Hannah of Rikus se ouers gehelp nie.
Ek is seker hulle het ook vir hul kinders se veiligheid gebid, vir God gevra om hulle kinders te beskerm en ’n mooi, lang lewe gevul met geluk oor hulle kinders uitgespreek.
* Louise Karsten is die redakteur van Mossel Bay Advertiser.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’