Ek het gesit en koerant lees terwyl ek wag vir my Erica Special by 'n bekende restaurant in Mosselbaai. Toe ek klaar is, vou ek die koerant op, plaas dit in die tydskrifrakkie terug en stap na die kasregister om te betaal. Ek sien haar uit die hoek van my oog en toe hoor ek haar praat…
"Ai, die ou pensioentjie is ook maar klein meneer..." Sy lag vriendelik en gesels oor ditjies en datjies en ek gesels saam. Sy is 'n skatlike, klein tipiese oumatjie met grys haartjies, diep kepe in die wange en baie swaarkryplooie. My hart word dadelik sag. Sy sal mos ook 'n Erica Special-koffie geniet op so 'n lekker wintersdag; dink ek en stop 'n noot in haar hand. "Baie dankie meneer, in Jesus se naam" sê sy.
Toe maak sy my hart nog sagter met die volgende woorde; "Wat moet ek vir Jesus sê? Waarvoor moet ek vir meneer bid?" vang sy my onkant.
Die kelner agter die kasregister en ander kliënte hou my reaksie dop. Ek antwoord verleë;" Vra vir Hom net vir meer genade asseblief." Toe draai ek om, waai vir haar en stap uit.
In my hart voel ek lekker. Ek het iemand se dag goed gemaak en sy waardeer dit. Op pad na my kar toe steek ek vas. Kom ek neem vinnig 'n foto van haar. Sy is so 'n klassieke oumafiguurtjie. En netnou sien ek haar nooit weer nie, dan het ek darem 'n foto.
Ek draai net daar om. Toe ek weer by die restaurant instap is sy skoonveld.
"Waar is die oumatjie?" vra ek. Hulle beduie vir my na die agterkant van die restaurant toe. Toe ek daar kom, is ek net betyds om te sien hoe sy by die kroeggedeelte van die perseel ingaan.
Ek val amper op my rug. Is oumatjie dan nou verdwaal? wonder ek.
Ek kyk weer. Nee wag, daar gaan sy by 'n sydeur van die kroeg in.
Dit lei tot 'n klein dobbelsaaltjie wat gekoppel is aan die kroeg. Ek is verstom. Oumatjie is voorwaar 'n vernuftige "rentmeester". Sy is natuurlik van plan om my geldjie te gaan probeer vermeerder. Die genade wat sy vir my voor gevra het gaan sy nou self beproef op 'n dobbelmasjien.
Ek stap hartseer-nadenkend uit die restaurant. Die oumatjies van ons land kry baie swaar. Baie van hulle versorg 'n string kleinkinders wie se ouers as gevolg van vigs gesterf het. Ander is weduwees en staan stoksielalleen...
Ek dink aan 'n berig wat ek in die koerant gelees het van ouma Gertrude Makhanda (Wes-Kaap) wat treur nadat sy al haar kinders en kleinkinders in 'n brand in 'n informele woonbuurt verloor het (sien foto).
Ek wens die regering en samelewing wil meer doen vir sulke oumas.
Ek wens ek kan vir elke alleenoumatjie in ons land 'n Erica Special gee net om dankie te sê. Ons moet onthou om gereeld vir "meer genade" by Jesus te vra vir hulle. (www.dsgielie.net)