OUDTSHOORN NUUS - "Ek gebruik nou my pensioengeld om boeke te skryf."
Só het die emeritusleraar, ds. André Boezak, verlede Vrydagaand, 21 Augustus, tydens die bekendstelling van drie van sy nuwe boeke by die VGK Oudtshoorn gesê.
Boezak het aan die einde van verlede jaar, ná 38 jaar in die bediening, afgetree. Sy aftrede het egter nie beteken dat hy stilsit nie. Hy het reeds drie nuwe publikasies die lig laat sien en is klaar besig met sy volgende boek.
Die drie boeke wat onlangs verskyn het, is Uit die pyp se bek, 'n versameling stories en vertellings oor mense; !Xhoeroe, 'n bundel gedigte wat hoofsaaklik oor die Karoo handel; en Sakramente van Stiltes, 'n bundel gedigte en foto's uit sy reise, waarvan baie tydens motorfietsritte geneem is.
Boezak het die boeke opgedra aan sy ma wat onlangs oorlede is.
"Sy was 'n boekemens," het hy gesê. "Ek het om dié rede besluit om my pensioengeld in boeke te belê. Om boeke te publiseer kos geld."
Volgens Boezak sal hy aanhou skryf solank hy kan. Hy sê daar is nog baie stories wat vertel moet word.
"Ons het 'n roemryke komvandaan en daar is nog sommer baie stories wat vertel moet word."
Sy liefde vir die Karoo speel ook 'n belangrike rol in sy skryfwerk. Volgens hom gee die Karoo 'n mens ruimte om te wees wie en wat jy is.
"Ek sien in die Karoo ook die grootsheid van die Here. Daar is baie Bybelse elemente."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’