ZOAR NUUS - “Die beskuldigde se lewe was nooit in gevaar nie en hy het nie in noodweer opgetree nie.”
Só het streeklanddros Asanda Shasha van Beaufort-Wes in die Oudtshoorn-streekhof gesê toe sy Jade Peceur (34) van Zoar skuldig bevind het aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Peceur en Gordon Alexander (33) was aanvanklik saam aangekla van poging tot moord nadat Jeremy Saas, Peceur se swaer, op 6 Julie 2024 na bewering met ’n graaf geslaan, met ’n glas bier in die gesig gegooi en met ’n mes gesteek is.
Alexander is intussen oorlede.
Die twee beskuldigdes het aan die begin van die verhoor aangevoer dat hulle uit selfverdediging opgetree het.
Alexander het getuig dat Saas hom met ’n mes wou steek en dat hy die mes met ’n graaf uit Saas se hand geslaan het.
Peceur het op sy beurt ontken dat hy vroeër die aand saam met Alexander was. Hy het wel getuig dat hy later die aand in ’n struweling met Saas betrokke was.
Volgens Peceur het hy nie die bedoeling gehad om Saas te steek nie en het hy bloot probeer om homself te verdedig.
Hy het ook later na Saas se woning gegaan om verskoning te vra vir wat gebeur het.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die hof versoek om ’n vonnis op te lê wat “soos ’n swaard oor Peceur se kop hang”, aangesien sy optrede nie geduld kan word nie.
Volgens Saaiman het Peceur ook geen teken van berou tydens die verhoor getoon nie.
Landdros Shasha het Peceur skerp tereggewys en gesê hy het onverantwoordelik opgetree. Volgens haar was hy bewus daarvan dat Saas ’n ander persoon kon word wanneer hy te veel gedrink het.
Sy het verder daarop gewys dat die steekwonde wat Saas opgedoen het, maklik tot sy dood kon gelei het.
Saas het ná Peceur se skuldigbevinding in trane ter strafversagting getuig en die hof versoek om nie sy swaer tronk toe te stuur nie.
Volgens Saas het die twee mekaar vergewe en is Peceur die enigste broodwinner in sy huishouding.
Die hof het ter strafversagting in ag geneem dat Peceur wel om verskoning gevra het, ’n vaste werk het en verder wil studeer.
Peceur is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’