LADISMITH NUUS - Die Demokratiese Alliansie (DA) in die Wes-Kaap het Vrydag 21 Augustus strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder van Kannaland, adv. Dillo Sereo, by die Ladismith-polisiestasie aanhangig gemaak.
Die klagtes is deur die DA se parlementêre leier, George Michalakis, gelê en hou verband met beweerde oortredings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, Wet 56 van 2003 (MFMA).
Volgens Michalakis is die klagtes spesifiek gegrond op Artikel 173(1) van die MFMA, wat voorsiening maak vir moontlike strafregtelike aanspreeklikheid in verband met sekere oortredings van die wet.
Ingevolge Artikel 60 van die MFMA is die munisipale bestuurder, die rekeningkundige beampte van 'n munisipaliteit, en dra dié persoon die verantwoordelikheid vir die finansiële bestuur van die instelling.
Volgens die DA sluit die beweerde oortredings onder meer die versuim in om bepaalde finansiële bestuursverpligtinge ingevolge die MFMA na te kom, asook die versuim om redelike stappe te doen om ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes te voorkom.
Michalakis het gesê die klagtes is gebaseer op wat hy beskryf as voortdurende probleme met finansiële bestuur by die Kannaland-munisipaliteit.
Volgens hom is dit 'n probleem wat herhaaldelik by die munisipaliteit voorkom en het aangevoer dat Sereo, as rekeningkundige beampte, 'n wetlike plig het om redelike stappe te doen om sulke uitgawes te voorkom.
"Die munisipale bestuurder moet seker maak dat die munisipaliteit se finansies korrek en suiwer bestuur word," het Michalakis aan Oudtshoorn Courant gesê.
Volgens Michalakis is die klagtes wat Vrydag gelê is, objektief gebaseer op die DA se standpunt dat die munisipale bestuurder sedert Junie 2024 op 'n wyse optree wat, volgens die party, in stryd is met die strafregtelike bepalings van die MFMA.
Prokureursbrief
Volgens 'n verklaring wat deur Michalakis uitgereik is, het Sereo voor die indiening van die klagtes 'n prokureursbrief aan die DA laat beteken waarin daar gepoog is om die party se beplande optrede te stop.
Michalakis het die brief as 'n "halfhartige cease and desist-bevel" beskryf en gesê dit was volgens hom 'n poging om te keer dat die DA strafregtelike klagtes teen Sereo indien.
"Die DA kan en sal nie verhoed word om vir beter dienslewering vir die mense van Kannaland te veg deur 'n munisipale bestuurder wat agter regsbriewe wegkruip nie," het hy gesê.
Michalakis het gesê die DA se optrede is deel van die party se veldtog teen swak munisipale bestuur.
Volgens die party het Kannaland oor die afgelope vier finansiële jare afgekeurde ouditmenings ontvang.
Die DA beweer verder dat swak finansiële bestuur 'n direkte uitwerking op inwoners het en verwys onder meer na probleme met watervoorsiening, infrastruktuur en werkloosheid in die gebied.
Michalakis het gesê Sereo, as die munisipaliteit se rekeningkundige beampte, moet aanspreeklik gehou word vir die administrasie se finansiële bestuur.
"Adv. Sereo het 'n wetlike plig om die wet binne die administrasie te handhaaf," het hy gesê.
Die klagtes wat deur die DA gelê is, is bewerings en die ondersoek en enige moontlike verdere regsproses sal bepaal of daar genoegsame gronde vir strafregtelike vervolging bestaan.
'n Navraag is aan die polisie, sowel as Sereo gestuur, maar teen druktyd is geen terugvoer ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’